God se Woord in vandag se woorde

Vrugte van die Gees: Reken op hulle want hulle vertrou op God


Ek en my vrou sit langs die rivier in Swellendam en ontspan in ’n wonderlike huis. Ons kyk oor die mooi berge en die pragtige skoon blou hemel. Ons sit regoor ’n stroomversnelling en die gekabbel van die water vul die heeltyd ons ore. Voëls is hier in oorvloed en dit is ’n juiglike gekwetter heeldag lank. Die bome hier langs die rivier staan grasieus in die windjie en wieg.

Ai, dis ’n voorreg om te leef. Dis ’n voorreg dat al ons sintuie in goeie werkende toestand is om dit alles te kan waarneem en ek uiter ’n dankgebed dat God so groot is.

Hier is dit maklik om te glo. Dis maklik om te glo dat daar ’n Skepper agter al die groot skeppings is. Ja, die huis waarin ons bly is mooi, maar nie so indrukwekkend soos ’n groot bergreeks, ’n kabbelende rivier, ’n swaaiende boom of ’n kwetterende voëltjie nie.

Ek kan nie anders as om te glo nie. Ek kan nie anders as om te glo in God wat veel groter as die mense en die berge en die bome is nie. Aan God kom al die eer toe, sing ek in my gedagtes. Daar is geen ander soos Hy nie. Dankie, God. Ek glo, ek glo, ek glo.

En tog is daar mense wat hier kom sit en dieselfde raaksien. Die berge, die bome, die rivier en die voëls, maar glad nie glo dat God dit gemaak het nie. Die berge en bome en rivier en voëls is tog nog altyd hier. Hoe kan jy sê dis God wat dit gemaak het. Die slim mense maak met wetenskaplike denkspronge sonder God sin daaruit. Glo in God? Nee, wat. Dis dinge uit die oude doos.

Hier kom sit ’n goudgeel vinkie op ’n palmboom se blaar en soek kos. ’n Spierwit skoelapper fladder hoog in die lug rond. ’n Mossie vlieg vinnig laag oor die grond. Skielik spring ’n vis uit die water. ’n Piet-my-vrou roep na sy vrou. Kriekies raas en in die agtergrond hou die rivier se gekabbel ritmies aan. Ek kan nie anders as om te glo in ’n Skepper nie.

Hoe werk dit dan dat die een persoon se geloof hier versterk word en die ander alles net mis?

22… Ander kan altyd op hulle reken omdat hulle self deur dik en dun op God vertrou

Wanneer jy jou hart vir God gee, kom woon God se Gees in jou. Wanneer jy die beheer van jou lewe aan Hom oorgee, is daar gevolge. Dinge in jou raak moontlik. Een daarvan is dat dit vir jou moontlik is om te glo. Dit is asof die Heilige Gees vir jou ’n bril kom opsit en jy begin sin uitmaak uit die dinge wat vir jou voorheen so onduidelik was. Geleidelik maak die bril alles duidelik en jy verstaan. Nou is dit moontlik om in God se dinge te glo, al maak dit nie menslik of wetenskaplik sin nie.

En tog kom daar tye wanneer ons nie die Almag agter die berge, bome, riviere en voëls raaksien nie. Ek vermoed dis die tye wanneer ons weer die bril van die Heilige Gees van ons oë afhaal. Dis die tye wanneer ons self die stuur oorneem. Dis die tye wanneer die vrug van die Gees nie meer in ons lewens sigbaar is nie.

Dan moet ons maar weer voor God gaan kniel en ons sondes bely en ernstig vra dat God weer beheer sal oorneem en dat sy Gees sy vrug in ons sal dra. Dan sal ons weer duidelik sien en kan glo in ons Almagtige God.

Teks

Galasiërs 5:13-23

Gebed

Almagtige God. Ek glo. Ek glo in U wat almagtig is en die Skepper van die hemel en die aarde is. Ek glo dat U in beheer is. Ek glo dat U oor alles beskik. Soms sukkel ek wel om te glo. Ek besef dat dit die tye is wanneer ek in beheer van my lewe is. Help my om die stuurwiel van my lewe uit te los en toe te laat dat die Gees beheer oorvat. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek