Vrugte van die Gees: Verdra – en is nooit lelik nie (2)
Ons doen die vrug twee keer, aangesien die meeste van ons hier in die hek duik.
Die meeste van ons is vinnig uit die blokke. Ons klim vinnig op ons perdjie en sê ons sê. As iemand iets doen of sê waarmee ons nie saamstem nie, sal ons nie skroom ons ons opinie daaroor uit te spreek nie. Die netto effek is keer op keer ’n ligte skermutseling met ’n streep beseerdes wat langs die pad lê.
Dit is egter nie die vrug van die Gees nie. Wanneer die Gees in beheer van ’n mens se lewe is, lyk jou optrede heeltemal anders: Jy verdra ander mense, sonder om lelik te wees. En kom ons wees nou maar eerlik: Dis nie maklik nie. Dis nie maklik om ander te verdra nie en dis nog moeiliker om jou mond te hou en nice te bly. Maar wanneer die Gees in beheer van ons lewe is en ons die bestuur van ons reaksies en manier van optrede aan Hom oorgee, raak ons dade anders.
Ek sukkel nog hier.
Die Griekse woord wat Paulus hier gebruik is makrothumia en beteken die volgende: Om stadig te wees om kwaad te word, om nie vinnig passievol te wees nie, om lank uit te hou terwyl jy swaarkry, om lankmoedig te wees en om verdraagsaam te wees. Dit is die teenoorgestelde van passievolle uitbarstings en toon nie gedrag wat die ander irriteer nie. Dit kan lank uithou terwyl ’n mens onderdruk, gekoggel en uitgedaag word. Selfs in tye wat dit lyk of ander se intensies is om jou seer te maak, bly jy rustig en van jou perdjie af.
Soms reageer ek passievol op ander en regverdig ek my gedrag omdat ek passievol is, maar hoe ervaar die ander dit?
Jy sien, ons gaan in verdedigingsmode. Wanneer mense ons bedreig of as dit lyk of ons in ’n hoek vasgedruk word, wil ons ten alle koste daaruit kom. Dan sê en doen ons dinge wat eerder kon gebly het. Op die ou end is ons uit die gevaar, maar teen watter koste? Hoeveel letsels het die ander om jou omdat jy jouself ten alle koste verdedig het?
Ek besef dat as ek kwaad geword het, ek eintlik klaar die stryd verloor het. Die emosies wat in my opstoot, neem beheer oor en dan is my optrede buite beheer. Dan is ek nie meer in beheer van wat volgende gesê en gedoen gaan word nie.
Ek besef dat hierdie nie sommer ’n paar reëltjies is wat ek in ’n ry moet laat staan en verwag dat alles nou reg sal verloop nie. Eintlik besef ek presies my onvermoë om stadig kwaad te word, om lank lankmoedig te wees en om rustig uit te hou. Dit is soveel moeiliker om dit alles reg te kry terwyl ander lelik is en my in ’n hoek vasdruk of my grensloos irriteer.
En saam roep ons uit: O Here, help ons.
Ons het hulp nodig. Ons het nodig dat die Gees vrug in ons lewens sal dra. Ons vrugte maak dit nie. Ons vrugte is misvorm en smaak niks lekker nie. Daarom moet ons meer erns maak met die Heilige Gees. Ons moet meer en meer die beheer en die bestuur van ons lewens aan Hom oorgee. Dis al manier hoe ons stadiger gaan kwaad word, langer lankmoedig gaan wees en rustig sal uithou, al vat ander ons aan.
Teks
Om oor na te dink
Hoe lank kan jy uithou?
Raak jy te gou kwaad?
Hoe lyk jou vrugte?
Gebed
Vader, dis moeilik om die heeltyd rustig en kalm te bly as ander met my sukkel, maar ek wil graag die vrug van verdraagsaamheid dra. Help my asseblief om my eie wil onder beheer van U Heilige Gees te plaas sodat ek goeie vrugte kan dra. Amen