God se Woord in vandag se woorde

Waar om draai jou lewe?


Paulus het baie waardering vir die manier waarop die Korinte die evangelie embrace en dat hulle ook toegelaat het dat dit hulle hele uitkyk op die lewe verander. Maar meer nog, hulle hele lewe het verander. Die wêreld waarin hulle gelewe het, het verander omdat hulle anders was. Ander kon hulle andersheid raaksien. Ander kon hulle geloof raaksien.

Paulus gee self ’n getuienis oor hulle: 14Vroeër, voordat Titus na julle is, het ek so ’n bietjie oor julle by hom gespog. Gelukkig het julle my toe nie teleurgestel nie. Titus het self gesien dat alles wat ek oor julle vertel het, die reine waarheid is. Nou praat hy net die hele tyd oor julle. 15Sy liefde vir julle word by die dag groter. Julle toewyding het hom regtig baie beïndruk, so ook die respek en ontsag waarmee julle hom ontvang het. 16Ek is dankbaar dat julle my nie in die steek gelaat het nie. Dis lekker om te weet dat ek altyd op julle kan reken.

Die ouens van Korinte het iets van die evangelie gesnap. Te midde van baie teenstand en spot was hulle bereid om vir die nuwe boodskap van redding op te staan. Maar meer nog, hulle was bereid om ’n groot verskil te maak daar waar hulle die lewe leef. Ander mense kon dit sien en ook aan hulle lywe ervaar. Hulle was ernstig oor hulle toewyding aan God.

Ja, soms het hulle so effe teruggesak na die ou manier van doen, maar hulle het gou weer opgestaan en weer probeer om binne die wil van God te leef. Dit het Paulus trots gemaak en hy was so dankbaar dat hy ten alle tye op hulle kon reken.

Ek wonder of Paulus dieselfde van my sou kon sê? As mense na my en jou lewe kyk en nee, ek praat nie van as jy by die kerk of ander geestelike okkasie is nie. Nee, as iemand daar in die gewone lewe stap, daar waar die dinge nie altyd volgens plan verloop nie, sal hulle trots wees op jou manier van die evangelie uitleef? Daar waar die mense nie gedoen het wat jy gevra het hulle moet doen nie, daar waar die ou nie betaal het soos hy belowe het nie, daar waar die familie in ’n ander rigting getrek het as wat jy gedink het goed was, was jou optrede van so ’n aard dat ons trots daarop kan wees?

Tannie Gerty bak pannekoek. Sy kán pannekoek bak. Sy bak pannekoek as hulle jukskei moet gaan speel. Sy bak pannekoek vir petrolgeld as hulle alweer ver na die dokters toe moet reis. Maar toe het sy ’n behoefte om haar talente in God se wêreld te laat werk. Sy bid toe en lê haar talente voor God. Ewe skielik kontak ’n verskeidenheid van organisasies haar. Ge-gear met haar stofie en resep sak sy by basaars in, help sy skole en by huise vir seniors. Sy sê: Weet jy hoeveel bevryding gee dit my! Dis God wat my krag gee om elke oggend op te staan en mense te help. Dis my liefdesdiens aan Hom. Hier waar ek staan en bak is dit my spesiale tyd saam met Hom.

’n Diens om op trots te wees. ’n Lewe om op trots te wees.

Op ’n manier moet ons ook ons doelpale skuif. Baie van ons energie gaan daarin om ons eie pad oop te kap en alles draai net om onsself. Dalk moet ons intensioneel begin plekke soek waar ons die evangelie kan laat grondvat, sodat mense dit aan hulle lyf kan voel. Dalk moet ons meer op ander en hulle nood fokus.

Mag daar eendag ook van ons gesê word dat ons niemand ooit in die steek gelaat het nie. Mag God eendag trots na ons elkeen kyk en sê: Jip, daar was tye wat julle gegly het, maar die opstaan en weer probeer was moedig. Jy het ’n verskil gemaak. Ons is trots op jou!

2 Korintiërs 7:8-16

Om oor na te dink

Om wie draai jou lewe?

Is God trots op jou doen en late?

Wat kan jy verander?

 

Gebed

Ons Vader, ek weet dat ek nog te veel gly in my opdrag om die evangelie grond te laat vat oral waar ek gaan. Ek wil nie toelaat dat my lewe net om myself draai nie. Ek wil werklik ’n verskil maak. Ek wil U nie in die steek laat nie. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek