God se Woord in vandag se woorde

Waarde toegevoeg


Filippense 1:27-30

Die mense van Filippense was so bietjie in mekaar se hare. Hulle het die Boodskap verskillend geïnterpreteer en daar was gedurig ’n gestryery – klink eintlik heel bekend! Paulus vra hulle in vers 2 om eers die strydbyle neer te lê. Maar om die pad na die oproep voor te berei, begin hy met die inleiding: 1As julle Christenskap vir julle enigiets beteken; as julle liefde vir mekaar julle deur moeilike tye gedra het; as die teenwoordigheid van die Gees enige verskil in julle lewe gemaak het; as julle weet wat dit beteken om iets vir mekaar te voel, ja, om vir mekaar om te gee, wil ek julle ’n groot guns vra.

Kom ons kyk een vir een na die eienskappe en hoe ons prentjie daarmee vergelyk. Die eerste ene: 1As julle Christenskap vir julle enigiets beteken; die 1983- vertaling vertaal dit soos volg: Aangesien julle die troos in Christus ondervind het.

“Beteken Christenskap vir jou iets?” skiet die vraag in my kop op. Ervaar ek regtig die troos van Christus in my lewe of is die troos iets wat in my Bybel vasgekeer is?

In die besigheidswêreld het ons baie keer om ’n tafel gaan sit en deur elke produk van die besigheid gegaan en ’n eenvoudige vraag gevra: “Voeg die produk waarde toe?” Ons was selfs soms gedwing om dieselfde vraag te vra oor mense: “Voeg die en daai persoon regtig waarde toe?” Die moeilikste is om te erken wanneer die antwoord nee is en veranderinge aan te bring.

Ek en jy moet dieselfde vraag vra of Christenskap en die troos van Christus rêrig waarde by ons lewens voeg en of die waarde daarvan toegesluit bly tussen die woorde van die Bybel?

As dit nie waarde toevoeg nie, moet ons die fout gaan soek, want so kan dit nie aangaan nie. Ons kan nie maar net aankarring met iets wat nie werk nie. Dit voeg geen waarde by nie. Inteendeel – dit tap dan net energie.

Wanneer iets nie meer waarde het nie, gaan soek ’n mens eers die fout by die verskaffer. Is die diens en produkte wat hy lewer nog van hoë kwaliteit? Is dit nog soos in die verlede? Wel, as ek na die diens kyk wat God bied, is dit nog presies dieselfde. Loer maar terug oor die geskiedenis en kyk na mense wat na aan God gelewe het. Hulle het hulle troos by God gekry. Hulle stap met God het rigting aan hulle lewe gegee.

Vir Mynie het haar verhouding met God baie waarde toegevoeg:

Ek het op 44 jaar begin met ’n besigheid in die garage na baie ure saam met die Here: “Here, ek weet niks!” Sy antwoord: “Wat jy nie weet nie kan jy leer!” “Ek is bang, Here! Sy antwoord: “Ek is by jou!”

So het dit gekom dat ek toe in die geloof begin het en in elke oorpak, kledingstuk, ens. is daar ’n Bybelversie in Afrikaans, Engels en Tswana. Vandag is daar ’n fabriek in Augrabies en winkels in Kakamas en Upington. Meer as 30 mense werk vir ons.

Blikkies!

As die waarde van Christenskap en God se troos nie by ons uitkom nie, lê die probleem duidelik nie aan God se kant nie. Êrens is daar fout aan ons kant. Daar is paddas in die pyp. Ons sal hulle moet gaan soek en uithaal.

Ons moet seker maak dat die pyp skoon is, sodat God se troos ons kan oorspoel en sodat ons waarde kan put uit ons Christenskap. Dit word alles deur genade aan ons gebied. Vat dit!

Om oor na te dink

Voeg Christenskap waarde tot jou lewe toe?

Ervaar jy Jesus se troos?

Is jou pype skoon?

Gebed

Vader, ek moet bieg dat ek nie altyd die waarde van U in my lewe ervaar nie. Ek weet die fout lê nie by U nie, maar eerder by my. Help my om my pype leeg te kry sodat U waarde in my lewe kan byvoeg. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek