Waar’s God se seën dan heen?
Ek en ’n vriend sit rustig op ons kampstoele en ek getuig hoe goed God vir ons is. Ek moet myself keer om nie die gesprek oor te vat nie, want daar is soveel stories wat ek wil vertel van hoe getrou God is en elke maand voorsien.
Skielik vra hy hoekom daar dan plekke is waar dit nie so goed gaan nie. Hy vra of God dan Sy seën onttrek. Ek kom agter dat hy van ’n Christen-organisasie praat, waarvan hy deel is, maar die afgelope tyd raak die leiding van bo af net al hoe minder.
Ek herken dadelik die organisasie. Ek was al by hulle om ons dienste aan te bied. Alles gratis. Ons wil net hande vat om mekaar se hand sterker te maak en ons impak in die koninkryk net groter.
Hulle sien egter nie kans om hande te vat nie en wil eerder hul eie platform ontwikkel. Dit sal derduisende rande kos, wat hulle nie het nie. Dalk het hul visie gaan vassteek ’n klomp jare terug of dalk het eksklusiwiteit hulle gekniehalter, dit weet ek nie, maar wat ek wel weet, is dat die keuses wat hulle nou maak, die ondergang van die hele organisasie beteken.
Dis nie God wat Sy seën van die organisasie onttrek het nie, maar eerder die besluite van mense. Mense neem besluite, dalk uit onkunde of dalk uit, ek weet nie wat nie, en dan is die uiteinde nie so lekker vars nie.
So gaan dit in ons eie lewe ook. Gaan kyk ’n bietjie terug oor jou eie lewe. Finansiële besluite wat bietjie krom was en ons baie gekos het. Dalk het jy eendag net nie meer kans gesien om in sulke omstandighede te werk nie en net bedank om vandag nog steeds sonder ’n werk te sit. Dalk het jy uit ’n verhouding gestap of dalk net iets gesê of gedoen waaroor jy so spyt is.
Baie van die krom besluite het ons gelos waar ons nou is en dis baie keer hier waar ons erg begin vrae vra en gewoonlik stop die vraag by: “Het God dan nou Sy seën van ons onttrek?”
Dalk moet ons bid vir wysheid dat ons eers by onsself begin, want die meeste van die kere kan die plek waar ons onsself bevind, toegeskryf word aan ons eie doen en late. Hoor hoe mooi vertaal die 1983-vertaling vers 14: ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.
Dis ons begeertes. Dis wat ons wil. Dis soos ’n magneet wat aan die yskas vasklou. Dis soos ons honger wat ons ’n stem uit die yskas laat hoor roep en as ons ons weer kom kry, skyn die yskas se liggie in ons oë.
Ons keuses word deur ons eie menslike begeertes gedryf. Dit sleep en trek en stoot ons die meeste van die kere in die verkeerde rigting. Vir seker organiseer God dit nie. Dit is geborg, ondersteun en gedryf deur ons eie begeertes.
Laat ons ons teen onsself beskerm. Laat ons weet van hierdie stoot en trek en dryf en onsself daarteen staal. Kom ons vat eerder hande met God, sodat Hy ons teen onsself en ons eie jammerlike keuses kan beskerm. God se seën is vir seker nog oor ons.
Teks
Jakobus 1:12-18
Om oor na te dink
Waar was jou keuses nie so vars nie?
Verstaan jy die keuses se beginpunt?
Hoe kan jy jou staal teen jou eie keuses?
Gebed
Vader, ek besef dat die keuses wat ek gemaak het en nog gaan maak, nie altyd so vars is nie. Ek weet dat ek baie keer deur my eie begeertes gedryf word. Help my teen myself en my eie keuses. Gee my wysheid. In Jesus se Naam. Amen.