Wanneer liefde die stuurwiel oorneem
4… om ander mense dit wat hulle het of kry te gun sonder om lelik te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie. In die liefdesdaad is daar nie plek vir afguns nie. Daar is nie plek vir wange wat opblaas omdat jy nie dieselfde as die ander een kry of het nie. Wanneer ’n mens liefhet, praat jy nie op ’n afbrekende manier oor wat die ander een nou weer gekry het nie. Ek kan nie lelik wees oor ander se baie en mooi goed as die liefde uit my hart vloei nie.
Liefde is nie maklik nie.
Liefde is meer as. Liefde is as jy bly is ander het meer as jy. Liefde is as jy op en af spring oor iemand wat alweer iets kry, al het hulle baie meer as jy. Liefde is as jy bo-oor jou eie behoeftes en swaarkry kyk en saam met jou vyand kan dans oor iets wat hulle (in jou oë) onverdiend ontvang het. Liefde is wanneer jy uit die prentjie klim.
Liefde is nie maklik nie.
Jip, liefde is vir seker nie altyd maklik nie. Wanneer liefde jou lewe se stuurwiel oorneem, word daar nie eerstens in jou paadjies gery nie, maar in al die ander s’n. Daar is nie ’n truspieëltjie waarin jy so nou en dan na jou eie behoeftes kan kyk nie.
Wanneer liefde die hoofrol speel in jou lewe, kan jy nie anders as om die ander een om die nek te val al kry die persoon daardie ding waarna jy met jou hele hart smag. Dan is jy saam uit jou nate al is dit sy derde of vierde upgrade en jy het nog nie eens die eerste een gehad nie. By liefde gaan dit oor die ander een eerste: 4… om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie; om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie.
Liefde is nie maklik nie.
Ek kuier ’n tydjie terug by ’n vriend van my. Toe ek daar wegry, was my wange so effe opgeblaas, want in die amper twee ure wat ek daar was, het hy die heeltyd net oor homself en sy doen en late gepraat. Ek wou so graag ietsie van die seëninge wat ek ontvang het vertel, maar ek het nooit die kans gekry nie. Nou eers verstaan ek dat dit liefde is as jy nie jou eie beuel loop en blaas nie. Soms kom daar tye wanneer jy net moet luister, want dalk het die ander een dit nodig om eers net alles af te blaas.
Liefde is nie maklik nie.
Die liefde staan nie met ’n clipboard in die hand en skryf elke keer neer as iemand oor die grens glip nie. 4… om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy hom kan terugkry nie. Liefde gee ruimte vir die ander om foute te maak. Liefde is die dryfveer agter vergifnis – die een waarmee ons tog so baie sukkel. Liefde gee nog ’n kans en nog ene en nog ene.
Liefde is nie maklik nie.
En dan vir baie van ons die moeilikste van alles: 4… om nie sommer vir niks kwaad te word nie.
Liefde is werk. Dit is harde werk.
Om oor na te dink
Waar staan jy tussen liefde en die ander mense?
Raak jy soms kwaad?
Waar moet jy harder probeer om lief te hê?
Gebed
Vader, ek besef dat U liefde nie genoeg deur my lewe en dade gesien kan word nie. Daar is nog soveel plekke waar ek harder moet werk. Ek wil so graag die liefde saai, orals waar ek loop. Amen