God se Woord in vandag se woorde

Wanneer ons die stuur vat


Is daar ’n paar dinge wat jy weet jy verkeerd doen? Keer op keer belowe jy vir God dat jy dit nooit weer sal doen nie, maar as jy jou weer kom kry, val jy maar weer uit die bus. Hoeveel keer het jy nie al jouself belowe om nie weer ’n porn site oop te maak nie net om die volgende aand alleen te sit en dan weer te kliek, kliek, kliek…

Ek het myself al hoeveel keer voorgeneem om net rustig te bly as ek en my vrou verskil, net om by ’n volgende draai heeltemal verkeerd te reageer en ’n ligte oorloggie breek uit. Alles so onnodig en dan is daar ’n yskoue skietstilstand wat vir niemand lekker is nie en dit net omdat ek die beheer oorgeneem het.

Met die beste voornemens, net om om die volgende draai weer uit die bus te val.

Ek skrik een oggend wakker met dié beeld. Die lewe is soos ’n roller wat keer op keer verbykom. Omtrent dieselfde gebeurtenisse gebeur die heeltyd. Ons sal elke keer oor presies dieselfde gebeurtenisse struikel as ons nie leer hoe om dit te hanteer nie. Problems buried alive never dies.

Die kinders speel ’n speletjie op hulle skerms waar ’n mannetjie oor obstruksies moet spring. Die obstruksies kom al hoe vinniger aangerol vanuit alle rigtings. Jy moet die vermoë aanleer om daaroor te spring, want as jou voet aan een hak, ploeg jy en dan moet jy weer van vooraf begin.

Om terug te kom by die kommunikasie in die huwelik. Ek besef dat verskille keer op keer uit verskillende rigtings aangerol gaan kom. Ek besef dat ek die skill sal moet aanleer om dit reg te hanteer, anders gaan my voet keer op keer hak, ’n ligte oorlog gaan begin met ’n koue skietstilstand op die einde. Die ergste van alles: Ek moet wéér van vooraf begin.

Die vraag is: Watter skill moet ek aanleer? Wat is die gemeenskaplike vermoë of tegniek wat ek moet aanleer om my te help om nie keer op keer die verkeerde keuses te maak nie? Wat moet ek doen om nie my eie behoeftes eerste te wil sit nie? Wat moet ek doen om nie die sonde hoogty te laat vier nie?

Die Bybel sê ek moet die stuur oorgee. As ek terugkyk na my vermoë om my eie lewe te bestuur, is die getuienis nie baie goed nie. Ek is nie ’n goeie bestuurder van my lewe nie. Elke keer faal ek my rybewys toets. Eintlik vertel my storie ’n treurige verhaal van iemand wat glad nie by magte is om agter die stuurwiel van my lewe te sit nie.

God het dit geweet. God het geweet dat ons nie eintlik die stuurwiel van die lewe kan vashou nie. Die lewe is té moeilik en ons vermoë om reg te kies te beperk. Daarom gee Hy raad: 16Julle moet julle lewe deur die Heilige Gees laat beheer. Laat Hy aan die stuur staan van alles wat julle dink en doen en sê. Dan sal die sonde julle nooit onderkry nie.

Dit klink na ’n blink plan en ’n eenvoudige oplossing. Tog is dit nie so maklik nie, want ons smag daarna om agter die stuur in te klim. Soos ’n seuntjie van kleins af op sy pa se skoot wil sit om ook te bestuur, klouter ons gou op die Heilige Gees se skoot en vat die stuur oor. Die gevolge? ’n Koue skietstilstand of groter chaos.

Vra die Heilige Gees om die stuur van jou lewe oor te neem. As jy ná ’n stofwolk besef dat jy in die gestoei weereens die stuur gegryp het, moet jy dit dadelik bely, die stuur teruggee en weer probeer om jou hande van die stuur af te hou.

Ons moet oefen om die stuur te los. Ons moet aanhou toelaat dat die Heilige Gees beheer oorneem. Jy kan Hom vertrou vir ’n veilige reis.

Teks

Galasiërs 5:13-25

Om oor na te dink

Bestuur die Heilige Gees jou lewe?

Waar neem jy nog die stuur oor?

Hoe kan jy dit weer teruggee vir die Heilige Gees?

Gebed

Here, ek moet bely dat ek te veel kere die stuur van my lewe in my eie hande neem. Ek wil dit nie doen nie. Ek wil hê dat die Heilige Gees beheer moet neem. Help my om nie kort-kort die stuur oor te neem nie. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek