God se Woord in vandag se woorde

Want medies gesproke


’n Vriendin van ons stap ’n woeste pad. Hulle het 12 jaar gelede ’n kwaadaardige gewas in haar brein ontdek. ’n Paar keer het die gewas sy opwagting gemaak, maar met operasies en behandeling is dit verwyder.

Die medici kan nie glo dat sy nog lewe nie. Voorwaar ’n wonderwerk.

Die afgelope week het sy weer gegaan vir toetse en die gewas het weer begin groei. Dit groei teen so ’n spoed dat hulle dadelik wil opereer.

Dis tuff. Dis seer. Daar is nie eintlik antwoorde nie. Inteendeel, ’n mens weet nie eens altyd watter vrae om te vra nie.

Ek sit met ’n mond vol tande by my tjommie en sy vrou.

Wat sê ’n mens sonder om goedkoop troos te gee? Wanneer jy hoopvol in die hospitaal sit en wag vir die positiewe nuus en ewe skielik dop jou lewe om met nuus wat jy nie wil hoor nie, hoe handle jy so ’n curve ball?

Met trane in haar oë maak sy ’n stukkie oop. Eintlik bely sy ietsie en sê wat sy die afgelope tyd ervaar. Sy sê sy gee aan God al die eer. Sy is so bang dat as sy vertel van die 12 jaar wat God haar keer op keer genees, dat sy in die middel van die storie sal staan en nie God nie. Sy is driftig as sy sê dat God al die eer moet kry. Dit gaan oor God en nie oor haar nie.

My mond hang oop om ’n stukkie van haar groot geloof te sien. Al word daar vir die hoeveelste keer ’n curve ball na haar kant toe gegooi, het sy net ’n klomp wysheid om te weet dat God al die eer moet kry. Ja, haar emosies is op loop. ’n Klomp vrae hang in haar kop. Selfs bangheid kom maak sy lê in haar wese, maar deur dit alles hou sy aan om God te eer.

Ek vermoed sy verstaan waaroor die volgende twee verse gaan: 20God is so magtig en sterk. Juis met daardie krag werk Hy ook in ons. Hy kan en het dinge vir ons gedoen waarvan ons nie eens kon droom nie. 21Hy verdien daarom al die eer wat die kerk het om te gee, veral as ons dink aan wat Christus Jesus vir ons gedoen het. Almal moet Hom so eer, nou, môre en tot in ewigheid. Mag dit so wees.

Die mediese paneel van 20 top spesialiste wat haar die afgelope 12 jaar monitor en behandel, is stom, want medies gesproke… (Ons ken al die sinnetjie.) Wanneer God egter betrokke is, ervaar ’n mens werklik krag. Dan ervaar ’n mens ’n God wat wondere doen. Selfs dinge wat groter is as ons drome.

En juis hierom weet sy dat sy nie in die middel staan nie, maar ’n lewendige, almagtige, sterke God. Daarom kan sy nie anders nie as om uit die middel van die storie te klim en net aan God al die eer te gee.

Hier lê ’n moeilike tyd vir hulle voor. ’n Tyd waar vrae sonder antwoorde gaan oppop. ’n Tyd waar ’n mens se gemoed swaar gaan sleep. Tye waar ’n mens fisies net te moeg is om jou oë of mond oop te maak. Al waaraan sy en my tjommie kan vashou is die Almagtige God wat hulle van krag sal voorsien om, soos die afgelope 12 jaar, vorentoe te beur.

Ons ander sal langs hulle staan om te ondersteun en die wonder van God aan die werk ervaar. Saam sal ons al die eer aan Hom gee, want medies gesproke…

Teks

Efesiërs 3:14-21

Om oor na te dink

Het jy die krag van God nodig?

Glo jy dat God nog vandag kragtig in ons werk?

Wie kry die eer in jou lewe?

 

Gebed

Vader, ek het U krag nou in my lewe nodig. Ek het dit broodnodig. Aan U kom al die eer toe. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek