God se Woord in vandag se woorde

Ware geluk te vinde


’n Mens kan alles in die wêreld hê. Jy kan so veel geld hê as wat jou hart begeer. Jy kan die grootste en mooiste huis en die vinnigste en rooiste kar in die garage hê. Jy kan ’n empire van ’n besigheid staan gemaak het. Jy kan die mooiste, fynste of sterkste eggenoot of aanhangsel hê. Jy kan die beroemdste persoon in die wêreld wees en nog steeds kan geluk jou ontbreek.

Ware geluk kom nie saam met enige van bogenoemde nie. Dis nie deel van enige default settings nie. Inteendeel, daar is van die rykste, mooiste, grootste besigheidsmense wat doodongelukkig is.

Ek dink nou aan daardie liedjie, Looking for love at all the wrong places.  Miskien moet ons hier een skryf met die naam: Looking for joy at all the wrong places.

’n Vriend van my het aand vir aand gesoek na ware vreugde. Hy het in die oggende wakker geword en nie geweet wie langs hom lê nie, nog minder hoe hy daar gekom het, nog minder hoeveel wit strepies hy opgesnork het nie. En steeds het vreugde vir hom weggekruip.

Soek jy ook na ware vreugde? Bly vreugde ook vir jou wegkruip? Ek wonder of jy nie ook op verkeerde plekke soek nie.

Kyk nè, swaar kom besoek alle mense die een of ander tyd. Dis ’n seisoen (of seisoene) in ’n mens se lewe wat sonder aankondiging, net by jou voordeur kom opdaag.

Daar is ’n ou Joodse gesegde wat sê, welgeluksalig is die man wat staande bly in sy versoekings, want daar is geen mens wat God nie so toets nie (Shemoth Rabba, sek. 31, vol. 129).

Die ryk man en die arm man, die met wie dit goed gaan en die wat swaarkry, sal die een of ander tyd ’n donker seisoen ingaan en dis by die hantering hiervan waar die geheim van ware vreugde lê.

12Die Here gebruik slegte of moeilike dinge in ons lewe om te kyk of ons lojaal aan Hom gaan bly. Ware geluk is om dié toets met vlieënde vaandels te slaag.

Ek weet dat ek al ’n heel paar van die toetse nie geslaag het nie. Ek weet dat ek baie kere my speelgoed uit die kot gegooi het en ja, vreugde het bly wegkruip.

Dis nie maklik om wanneer die storms van die lewe ’n mens peper, staande te bly nie. Gelukkig hoef ons dit nie alleen te doen nie. Die Heilige Gees is daar om ons te help. Ons moet Hom net toelaat om ons met wysheid te bedien.

Wanneer ons met ’n sak vol wysheid na die donker seisoen kyk, besef ons dat ons nie alleen is nie. Dan weet ons dat ons wel hier kan deurstap en as ons dit suksesvol deurloop, wag ware vreugde, daai vreugde wat hier uit ’n mens se binneste stroom, om die draai.

Teks
Jakobus 1:12

Om oor na te dink
Kruip geluk ook vir jou weg?
Hoe maak jy met die storms in jou lewe?
Besef jy nou waar ware geluk te vind is?

Gebed
Vader, ek hoor dat ware vreugde gekry word deur die toets te slaag, maar ek sukkel. My knieë bewe onder die swaar vrag en ja, vreugde kruip weg. Help my om toe te laat dat die Heilige Gees in my woel. Help my om wysheid te kry, sodat dit my krag gee om by die vreugde uit te kom. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek