Wat het sonde, die Heilige Gees en jy in gemeen? – Romeine 8:9-17
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 8:9-17
Sonde is nou vir jou iets van die verlede. Die Heilige Gees is nou in beheer van jou lewe en jy is vry. Dis hoe die storie nou staan.
Die sonde kom neem so maklik sitplek in ’n mens se lewe in. Hy kom maak homself so gou tuis dat jy hom later mis as hy nie meer daar is nie, so asof hy al van die begin af daar was en moes wees. Daarom sukkel ’n mens baie maal om te besef dat God nie daai ding deel van jou lewe wil hê nie en dat die Heilige Gees nie lekker onder een dak met daai sonde woon nie. Ons sukkel ons moeg om eerstens die sonde te herken en tweedens om ontslae te raak daarvan. Dis omdat ons so gewoond geraak het daaraan en vir baie jare daarmee saamgeleef het. Dit het deel geraak van ons. Tog bevestig Paulus dit weer vir ons: 9Julle is egter nie meer in die greep van die sonde nie. Nee, julle lewens staan nou onder die beheer van die Gees wat in julle bly. En dan sommer ook die vermaning: 12My broers en susters, omdat die Heilige Gees in ons bly, mag ons nie langer in die sonde rondlê nie. Ons is dit aan Hom verskuldig. 13As julle kies om aan te hou sondig, moet julle weet dat julle sonder God sal sterf.
Dis ’n mond vol, maar die sonde moet uit. Sukkel jy om die gewoonte te breek? Sukkel jy om ontslae te raak van daai ding wat jy weet moet uit? Hier is egter hulp vir jou. 13… Maar as julle toelaat dat die Heilige Gees met julle sondige dade afreken, sal julle vir altyd saam met God lewe. Kyk mooi wie help met die sonde waarmee jy so sukkel. …as julle toelaat dat die Heilige Gees met julle sondige dade afreken.
Goeie nuus: ons staan nie alleen in die geveg teen die sonde nie! Een van die werke van die Heilige Gees is om teen die sonde in ons lewe te veg. Dankie tog daarvoor! Dankie tog dat ek nie die geveg alleen hoef aan te vat nie. Tog is die groot woord hier: toelaat. Ek moet toelaat, ek moet eintlik my sonde oorgee aan die Heilige Gees. Ek moet die pakkie uit my lewe neem en dit in sy hande plaas. As gevolg van ons ou geaardheid is dit egter nie maklik nie en as ons ons weer kom kry, vat ons weer die pakkie uit die hande van die Heilige Gees. Dit is dus ’n voortdurende stryd, ’n daaglikse ding en ons moet aanhoudend tot God bid en saam met die Heilige Gees opstaan teen die aanval van die bose. Ons moet die pakkie maar weer vir Hom gee en toelaat dat Hy met die sonde in ons lewe afreken.
As ons weer vers 12 tot 16 lees, besef mens weereens die groot rol wat die Heilige Gees in ’n mens se lewe speel. Dit is eintlik te groot om werklik te besef wat God vir ons doen. Hy gee vir ons Iemand om elke oomblik deel van ons lewe te wees, wat ons kan help om die lewe reg te leef. Die Heilige Gees sorg:
Dat ons reg lewe,
Dat ons vir altyd lewe,
Dat ons splinternuut sal lewe,
Dat daar met ons sondes afgereken word
Dat daar ’n diep verlange na God in ons binneste wakker gemaak word
Dat ons oortuig word dat ons regtig ’n kind van God is.
Hier is die belofte: 15Onthou: God het sy Heilige Gees gegee aan julle wat in Hom glo. Het jy al getwyfel wanneer mense praat oor die doop van die Heilige Gees of Hy ook in jou is? Wel, hier is die nuus vir jou: die Heilige Gees is in jou! God het Hom vir jou gegee. Jy moet net toelaat dat Hy sy werk in jou lewe kan doen. God is ’n sensitiewe God en sal nie sommer in jou lewe inkom en alles kom oordonder nie. Hy kom neem nie besit en vat oor as dit nie jou keuse is nie. Daarom kom bied Hy sy diens aan jou aan, maar jy moet self die keuse maak. Jy moet self in jou eie woorde, met jou eie stem, vir God toelaat, toestemming kom verleen dat sy Heilige Gees die beheer van jou lewe kan oorneem. Dan sal Hy outomaties die ses bostaande punte (en nog meer!) in jou lewe begin doen.
Om oor na te dink
Glo jy dat die Heilige Gees jou help?
Waar ervaar jy die hulp van die Heilige Gees in jou lewe?
Wat kan jy doen sodat die Heilige Gees meer in jou lewe kan doen?