God se Woord in vandag se woorde

Wat jy sien, is wat jy kry


’n Vriend deel hierdie besonderse WhatsApp-boodskap met my:

Bruce Lee (skuilnaam): Pieta (skuilnaam), baie dankie vir jou in my lewe. Ek weet ons praat min en sien mekaar ook min, maar jy is rêrig iemand na wie ek opkyk.

Ek hoop in die toekoms kan ons paaie nog nader kruis. Jy’s ’n rolmodel vir my en hopelik eendag ’n mentor. Ek wil by jou leer en groei. Ek wil ’n plan maak om meer gereeld by jou te kom sit.

Dankie vir wie en wat jy is.

Sjoe, watter mooi getuienis is dit nie van my vriend nie. Ek sal ook eendag so ’n boodskap wil kry. Daardie dag sal ek nederig op my knieë val en vir die Here dankie sê dat Hy my gehelp het om ’n voorbeeld te wees waarna iemand anders kan opkyk.

Ons moet besef dat ons vriende nodig het om ons deur die driwwe van die lewe te sleep. Op ons eie kan ons dit nie regkry nie. Ons is eenvoudig net te swak om al die baie vrae reg te beantwoord. Ons kort wysheid. Ons kort iemand om ons te wys hoe. Iemand wat reeds die pad gestap het, al is daar ’n paar verkeerde afdraaie geneem.

Ek weet Pieta was nie die soetste nie. Wel, daar kom nog steeds tye wat hy oor die grense foeter, want hy toets gereeld die grense. Hy sit nie net terug nie, maar soek nuwe gronde om te breek. Dis die gees wat die Here in hom geplaas het. Maar hy is die eerste een wat sal erken as hy ’n fout gemaak het en dit vinnig weer regstel.

In dit alles, probeer hy sy bes om nie net sy Godgegewe roeping uit te leef nie. Hy probeer reg lewe. Hy probeer oral waar hy gaan ’n verskil maak. Daar waar die lewe soms ’n woeste bal na hom toe gooi, vra hy krag van Bo om dit reg weg te piets. Hy is eerlik. Wat jy sien, is wat jy kry en basta met die res.

Bruce wil ook so lewe. Gelukkig besef Bruce dat hy dit nie op sy eie kan doen nie en vra vir Pieta om te help.

En presies dieselfde gebeur met Filemon. Hoor wat sê Paulus vir hom:

6Ek bid dat jou verhouding met my as jou broer in die geloof jou nog meer sal laat besef watter goeie dinge God aan ons geskenk het. Dit is ons deel omdat ons in Christus glo.

Paulus het al die pad gestap. Paulus weet van die verkeerde kant van die lewe, maar ook hoe om die lewe reg te lewe. Paulus weet hoe om God deel te maak van ‘n mens se lewe. Paulus verstaan God en ken Sy beloftes wat Hy gereeld waar maak.

Filemon is gelukkig om so ’n leermeester te hê. Bruce is net so gelukkig om ’n vriend, leermeester en mentor soos Pieta in sy lewe te hê.

Dit is vir ons elkeen ’n aansporing om vir ander om ons so ’n mentor te wees. Ja, al maak ons droog, kom ons staan op en probeer weer, want so kan ons eendag ander help om in die woeste wêreld staande te bly.

Leef so: Wat jy sien, is wat jy kry en basta met die res.

Teks
Filemon 1:4-7

Om oor na te dink
Agter wie kan jy aanstap?
Voor wie moet jy stap?
Hoe kan jy dit doen?

Gebed
Vader, soms raak ek so verstrengel in my eie dinge, dat ek vergeet dat die manier hoe ek leef voorbeeld vir ander kan stel. Help my om eerlik te wees oor my foute, maar ook bereid te wees om met ander te deel hoe U my dit help oorwin het. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek