Wat laat jy na? – Romeine 16:1-16
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 16:1-16
Dit lyk of die gedeelte nie eintlik ’n boodskap het nie en net ’n klomp persoonlike groete bevat. Tog is dit nie so nie, want hierdie is ’n klomp getuigskrifte van ’n hele aantal gelowiges. Paulus is besig om met een of twee woorde te getuig oor die impak wat hierdie mense op sy en ander se lewens gehad het.
Paulus beskryf die mense en hul impak as volg:
- sy was ’n dienende leier
- sy was vir baie ’n steunpilaar
- sy het al aan baie mense goed gedoen
- hulle het mense op hulle hande gedra
- hulle het hulle harte en hul huise oopgemaak
- hulle het hard gewerk om die goeie nuus van Jesus uit te dra
- hulle het hul lewe gewaag
- hulle vergader gereeld in die Naam van die Here
- sy het baie moeite gedoen
- sy doen alles met oorgawe
- hulle was ter wille van die Evangelie in die tronk
- hulle is hoog aangeskrewe deur die manne van God
- hulle is gesoute gelowiges
- hy was ’n goeie vriend in Christus
- hy was ’n gewaardeerde vriend
- hy was ’n toegewyde gelowige
- hulle het in die Here geglo
- hulle het die Here met oorgawe gedien
- hy het gewys wat steek in ’n kind van God
- hy is deur die Here uitgekies
- hulle het tot geloof gekom
- hulle was harde werksters vir die Here
- hulle het baie vir die Here gedoen
- ’n voortreflike werker in die diens van die Here
- sy was vir my ’n ma
Hierdie is getuigskrifte van mense. Dit is wat Paulus van die mense gedink het.
Wat dink die mense van jou?
Nou die dag vertel ’n man op die radio van die dag toe hulle ingetrek het in ’n nuwe dorp. Sy nuwe buurman stap toe nader… en sê vir sy kinders dat hulle nie oor sy gras moet stap nie. Dit het natuurlik baie van die buurman vertel asook wat hy van kinders dink. ’n Paar jaar later het die verhouding klein bietjie gegroei en kon die man darem al gesels met die buurman. Hy vra hom toe: Wat laat jy eendag vir jou kinders na?” “Rykdom, geld en alles wat hulle wil hê!” bulder hy en draai om en gaan terug in sy huis.
Wat is jou legacy? Wat laat jy na? Wat gaan die mense in een sin van jou sê as hulle via iemand anders vir jou groete stuur. Stuur vir so en so groete. Hy is ’n … persoon. Wat gaan op die kolletjies staan? As jy die dag nie meer daar is nie, wat gaan op jou grafsteen staan?
Die inligting van Paulus is eintlik beskrywings wat op daardie mense se grafstene kan staan: Hier lê Piet – hy was ’n steunpilaar. Hier rus Sannie – sy het haar hart en huis altyd oopgemaak vir ander. Hier is Koos – hy was ter wille van die Evangelie in die tronk. Hier lê jy – hy/sy was ’n harde werker in diens van die Here.
Ek wonder wat sal my gesin eendag op my grafsteen skryf? Hy was ’n goeie pa vir sy kinders. Hy was ’n mens-mens. Hy het Bybelstudies geskryf. Dis seker mooi. Maar is dit wat God wil hê daar moet staan? Miskien moet ons eerder mik vir: hy was God se hande en voete op aarde. Of so iets.
Om oor na te dink
Wat wil jy hê moet eendag op jou grafsteen staan?