God se Woord in vandag se woorde

Wat vertel jy aan die familie?


Marlene vertel van ’n dokter op Klerksdorp wat tydens sy studentedae finansieel gesukkel het. Sy broer was reeds ’n gekwalifiseerde dokter. Sy broer het by geleentheid vir hom geld in sy Bybel gelos, sonder om hom daarvan te vertel. Daarom het hy seker gemaak dat hy elke aand sy Bybel lees.

Dis vir my so ’n mooi storie. Dit is wat broers en susters eintlik vir mekaar moet doen. As student het my broer dit ook vir my gedoen. Ek onthou nog hoe hy gesien het dat ek tot my ore toe verlief is op Renata, maar as student nie ’n sent het om haar uit te vat vir ete nie.

Hy bespreek toe vir ons ’n romantiese plekkie in die Kaap en druk sy kredietkaart in my sak met die woorde: “Gaan geniet dit!”.

Jip, dis wat familie doen. Familie wil graag die beste vir mekaar hê. Hulle moet na mekaar uitreik en op die pad van die lewe help. Ons is spesiaal saam in ’n familie geplaas om vir mekaar uit te kyk en by te staan waar ons kan.

Dit is iets wat ons by ons ouer broer, Jesus, geleer het: 12Jesus sê: “Ek sal my broers en susters alles vertel wat Ek van U (God) weet. Waar almal saam is, sal Ek liedere sing wat vertel hoe groot en belangrik U werklik is.”

Jesus ken vir God. Hy weet ook wat God vir die mens kan beteken. Hy weet God is die antwoord vir ons probleme. As Jesus met die COVID-19-virus hier op aarde was, sou Sy boodskap eenvoudig wees: Moenie julle vertroue in julle beursies sit nie. Moenie dink julle kan julle gesondheid koop nie. Moenie julle vertroue in die kerk of die dokter plaas nie.

Nee, vertrou op God. Hy is die enigste Een wat jy kan vertrou, wat deur dik en dun by jou sal staan. Jesus sal ons, wat sy broers en susters is, bemoedig om te vertel hoe groot God werklik is en dat die virus eintlik nietig is in vergelyking met God se mag. God is veel groter en beter. Hy bly in beheer.

Toe Jesus op aarde was, het Hy presies dieselfde gedoen. Hy het vir almal vertel van God. Hy het vir almal vertel van Sy verlossingsplan. Hy het vir almal vertel wat hulle moet doen om ook eendag die Ewige Lewe in te stap.

Dis wat broers doen. Dit is wat susters doen.

Net jammer dat daar in baie gesinne en families groot oerklippe lê wat ’n groot wig, en in sommige gevalle kraters, tussen broers en susters ingewikkel het. Op ’n manier word die broers en susters se monde hierdeur toegedruk en kan, en mag, hulle niks sê nie.

Ons elkeen het ’n opdrag om aan al ons broers en susters, in vlees en in gees, die goeie boodskap uit te dra. Hoor mooi, dis ons almal se opdrag. As jy Jesus as jou Verlosser aanvaar het, is jy Sy broer of suster en dan raak die res van Jesus se broers en susters ook jou eie familie. En vir familie hou ons nie ons monde nie.

Dalk het een van jou familielede ’n paar verkeerde keuses in hul lewe gemaak en dalkies is dit net jy wie Jesus wil gebruik om hulle weer op die pad te help. Toe, tel jy sy of haar rekening op!

Teks
Hebreërs 2:10-13

Om oor na te dink
Wie is jou broers en susters?
Met wie moet jy dinge gaan uitsorteer?
Aan wie moet jy die Nuus vertel?

Gebed
Jesus, dankie dat U ons ouboet is en nie stilbly oor die goeie nuus nie. Help my om die groot bul by die horings te pak om my opdrag uit te voer. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek