God se Woord in vandag se woorde

Wees net lief


Efesiërs  5:21-33

Uit moedeloosheid skryf Hettie vir my ’n e-pos:

Ek is ongelooflik lief vir my man en ek glo hy is net so lief vir my, maar hy is verslaaf aan pornografie en het ek onlangs weer op sy foon gesien hoe hy op ’n webtuiste na naakfoto’s en foto’s met byna niks klere van ander vrouens gekyk het.

Hy het ook vriende wat gereeld vir hom vieslike videos op sy foon stuur. Ek kan dit nie meer hanteer nie en wanneer ek met hom daaroor praat, raak hy vir my baie kwaad met die gevolg dat ek nou eerder daaroor stilbly, maar dit veroorsaak dat ek voel ek is nie goed genoeg vir hom nie – ek is nie mooi of sexy genoeg vir hom nie. Dit laat my eintlik voel hy gee glad nie vir my om nie en kan ek nie spontaan teenoor hom wees en hom drukkies en liefde gee nie – ek is, reguit gesê, eintlik koel teenoor hom, want dit voel my hy gebruik my net vir een ding…..

Ek wens so hy wil besef dat as dit ek was wat sulke foto’s en video’s van naak mans gekyk het sou hy net so ongelukkig wees – maar dit druis in teen my Christelike beginsels en ek sal dit nooit doen nie.

Dit voel eintlik vir my hy is ontrou aan my deur net na hierdie foto’s en videos te kyk – dit breek my hart….. 

Ek wonder hoe dik loop Hettie se man se liefde vir haar? Baie ouens sal seker stry en sê dat dit niks daarmee te doen het nie, maar as ek liefde verstaan, bind dit saam, dit stoot nie af nie. Liefde gee om. Liefde bou, dit breek nie af nie.

Daarom die opdrag: 25… Jy moet jou vrou/man liefhê; wees lojaal teenoor haar/hom en kom jou verpligtings teenoor haar/hom na soos Christus dit teenoor sy kerk doen. Hy het selfs sy lewe ter wille van die kerk gegee toe dit nodig was.

Jesus is die voorbeeld…

(Ek onderbreek gou hier, net om presies te vertel wat gebeur met my toe ek besig is om “Jesus is die voorbeeld” te tik. My Skype-program pop op. Dis ’n vriend van my met wie ek in jare nie op Skype gesels het nie. Dis net ’n link. Ek klik op die link. My oë val amper uit my kop. Dis ’n pornografiese site! Sy Skype is ge-hack. Kan jy dit glo? Ja, ek kan. Die duiwel is so listig!)

Terug by die storie: Jesus is die voorbeeld vir ons oor verhoudings. Liefde is om die ander een se behoeftes eerste te stel. Jesus sal enige iets doen vir God se kinders. Sy liefde is so groot dat Hy selfs bereid is om sy lewe te gee.

Die vraag is: Hoe groot is ons mans se liefde vir ons vrouens. Hoe groot is die vrouens se liefde vir die mans? Is die liefde so groot dat ons bereid is om dit wat die ander een teen die mure uitdryf, te los? Is jy bereid om jou kyk na lyfies en ander dinge wat jy weet nie reg is nie, finaal te los en eerder jou energie te spandeer saam met jou maat? Is jy bereid om die geklets saam met jou vriendinne op te gee om meer tyd saam met jou eggenoot deur te bring?

Ek vermoed ons besef nie altyd wat ons liefdelose dade aan ander maak nie.

Kom ons neem Jesus as ons voorbeeld. Kom ons vergelyk elke dingetjie wat ons doen met Jesus se selfopofferende liefde. Kom ons probeer regtig vir die ander een lief wees, ten spyte van. Kom ons skuif vir eers ons eie behoeftes eenkant. Kom ons kry ons dade in lyn met ons status en wees lief. Net lief. Selfopofferende liefde.

Om oor na te dink

Waar val jou liefde op die grond?

Hoe kan jy jou liefde weer uitleef?

Wat gaan dit kos?

Gebed

Here, ek besef dat ons met U liefde mors. Ons mors nog meer met die liefde vir mekaar. Here, ons wil dit nie doen nie. Ons wil opstaan en net liefde gee en gee. Help ons om by U te leer en liefde te leef, al kos dit wat. Selfs ons lewe! Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek