God se Woord in vandag se woorde

Wees nommer 3


Alle mense op aarde soek eintlik net een ding en dit is ware geluk. Sommige soek dit in dinge soos, karre, klere en kayas. Hoe groter en blinker en mooier, hoe beter, maar ongelukkig het dit niks met ware geluk te make nie.

Sommige soek dit weer in roem, maar daar is hordes baie bekendes wat maar ’n saai lewe lei (of is dit nou ly?) omdat ware vreugde die heeltyd soek bly.

Ware geluk is te vinde daar waar ’n mens se droom en God se droom vir die mens aanmekaar raak en jy jou plekkie in die realiteit vind. Wanneer mense hul roeping in die wêreld aangryp en werklik ’n verskil begin maak, is daar ware vreugde te vinde.

Soms is dit in die vreemde, waar God mense geroep het om die beskermde bekende te verruil en daar te gaan waar min ander wil. Maar die meeste van die kere is ware vreugde te vinde net daar waar jy woon, werk en speel.

Ware vreugde is te vinde orals waar jy gaan. Sommer daar op jou foon kan jy dit kry. Jy sien, ware vreugde is om jou in te grawe in die vrymakende wet van God.

Hierdie vrymakende wet van God is die Evangelies, die verlossende boodskap van Jesus. Dis ’n wet, want dit skryf voor wat jy moet doen en vertel ook wat jy nie moet doen nie.

Natuurlik is daar gevolge. As jy kies om nie die regte dinge te doen nie, gaan jy pyn moet vat. Maar as jy kies om jou in te grawe, om jou rug te buig en af te kyk en binne die Woord van God te klim en dit dan juis te doen, is die gevolge ware geluk.

25 Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.

Dis eintlik so eenvoudig. Ons hoef nie hope geld te spandeer en tyd te mors om op die strate van die lewe te probeer vreugde koop nie – dis in ieder geval net plastiek.

Die antwoord op die vraag oor waar ons ware vreugde kan kry, is binne ons broek se sak of ons handsak. Dalk werk jy nog met papier, dan lê die antwoord daar op jou bedkassie of studeertafel.

Maak ’n punt daarvan om elke dag genoeg tyd in God se Woord, veral in die vier Evangelies te spandeer. Laat toe dat dit jou leer en jou wys waar jy dinge uit jou lewe moet haal wat jou weglok en gaan doen dan so.

Daar is geskrywe (Pirkey Aboth) dat daar vier tipe mense is wat by die sinagoge kom:

  1. Hy wat ingaan, maar nie enige iets doen nie.
  2. Hy wat werk, maar nie ingaan nie.
  3. Hy wat ingaan en werk.
  4. Hy wat nie ingaan nie en ook nie werk nie.

Ek vermoed dat die derde persoon die gelukkigste van almal is. Mag ons ook nommer 3 wees.

Teks
Jakobus 1:19-27

Om oor na te dink
Is jy op soek na vreugde?
Weet jy waar om dit te kry?
Kry jy dit?

Gebed
Vader, hoeveel keer moet ek nog hierdie woord hoor voor ek dit begin doen? Die antwoord is so eenvoudig. Hoekom kan ek dit nie doen nie? Help my om gedetermineerd elke dag U Woord op te soek en dit in my lewe te laat grondvat. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek