God se Woord in vandag se woorde

Welgedaan, harde werker!


Sjoe! Het ek nou nie gesukkel met die vers nie! 6Of dink aan dié voorbeeld: ’n boer wat hard werk, kan darem seker eerste van die vrugte van die oes proe. Uit watter hoek praat Paulus hier?

In die perikoop motiveer Paulus vir Timoteus om God se Woord uit te dra. Hy gebruik die voorbeeld van ’n soldaat om te sê dat hulle soms grondpad gaan stap en dat dit nie altyd maklik gaan wees nie. Die vyand gaan hulle woel.

Dan gebruik hy die voorbeeld van ’n atleet wat nie slegs moet oefen om te wen nie, maar dat hy ook volgens die reëls moet speel. Die twee voorbeelde is maklik verstaanbaar.

Maar wat het die boer en sy eet van die eerste vrugte nou hier te make?

Die betekenis van hierdie vers word eers vir my duidelik na die vierde kommentaar wat ek lees. Henry (e-Sword) verduidelik dat die fokus van die teksvers is hoe die boer sy werk doen en hoe hy wag vir die oes om gereed te word.

Ek onthou nog die dae op die plaas. Kyk, né, daar was tye wat ons hard gewerk het en min geslaap nie. In die koue winters, soms sommer terwyl dit reën, het ons die wingerdstokke gesnoei. Later pyn jou hande so dat jy sukkel om die skêr te druk om ’n klein lootjie af te knip.

Sodra die wingerd begin uitloop, moet die trekkers en spuitkarre elke twee weke loop om te verseker dat die swamme nie die oes verwoes nie. Sommer vir drie dae en drie nagte aaneen dreun die trekkers ry op en ry af. Dan raak ’n man se ogies rooi van die min slaap.

Parstyd het soveel energie uit ons getap. Lang dae in die son om elke korreltjie in die parsemmer te kry en dan vanaand ’n paar keer in die kelder om die doppe af te druk sodat die rooi pigment aan die sap ’n mooi rooi kleur kan gee.

Dit was harde werk. Min slaap, baie sweet wat aftap as die son jou hard van bo af steek. Jou kop is later moeg gedink en jy loop later soos ’n zombie rond.

En só moet ons ook swoeg aan God se oes. Ons moet mense lei om Hom as hulle Verlosser te erken en te aanvaar. Die probleem is dat ons eintlik nie kan sien waar ons só hard aan God se oes werk dat ons met rooi ogies rondloop, dat daar emmers sweet van ons aftap en dat ons van moegheid soos zombies rondstrompel nie.

Vir ons almal is hierdie ’n wakker-maak teks. Ons sit nie genoeg energie in God se boerdery in nie. Daar waar ons loop en speel en werk, moet ons ook saai op God se grond. Ons moet energie insit en seker maak dat die grond goed voorberei is. Ons moet tyd belê en afsprake maak. Weet jy dat daar mense is wat net vir jou wag om in hulle lewens te kom boer?

Dan sal ons eendag saam kan feesvier. Soos daar in die kelder. Hoe wonderlik was die beloning wanneer ons die geure in die jong wyne raak proe. Al was die wyn nog nie skoon afgesak nie, kon ons die potensiaal ruik en het die geure ons laat lag van opgewondenheid.

Net so sal ons eendag deel hê aan die beloning wanneer Jesus weer kom. Dan sal ons ook feesvier. Dan sal ons op ons skouers geklop word wanneer daar gesê word: “Welgedaan, harde werker. Kyk die mooi oes!”

Teks
2 Tim 2:1-7

Om oor na te dink
Hoe boer jy?
Waar kan jy nog gaan boer?
Sien jy uit na die oes?

Gebed
Here, U herinner my daaraan dat elke beloning voorafgegaan word deur harde werk. Dankie dat daar ’n beloning wag vir elke kind van U wat hard werk om in gehoorsaamheid aan U te leef. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek