Werk met respek
Dit is nou al ’n paar jaar wat ek uit die besigheidswêreld weg is. Daar was goeie tye, maar ook uitdagende tye wanneer die kontantvloei nie lekker wou loop nie. Ek het baie van besigheid geleer. Van voorsieners wat graag wou help, maar ook van debiteure wat jy moet gaan lek om jou eie geld vir dienste gelewer te kry.
Waarvan ek die meeste in die besigheidswêreld gehou het, was die mense. Ek kon ’n verskil in baie van hulle se lewens maak en daar is van hulle wat weer ’n groot impak in my lewe gemaak het. Daar was hope van hulle. Sommige het dalk net vir ’n week of ’n maand daar gewerk, ander weer langer as wat ek self daar betrokke was.
Die een naam na die ander pop nog na al die jare by my op en soos hulle name oppop flits hulle gesigte deur my gedagtes. Dis so lekker om weer terug te dink en die mense se glimlagte te sien.
Ek wonder hoekom ek nou juis elkeen van hulle onthou. Toe snap ek dit. Hulle was almal goeie werknemers. Hulle het hulle werk goed gedoen. ’n Mens kon sien hulle het geniet wat hulle gedoen het. Hulle het altyd eers hulle werk klaargemaak voordat hulle die pad huis toe gevat het. Hulle het meer ingesit as wat daar van hulle verwag is.
Ek onthou nog vir Nimrod. ’n Man wat nie baie woorde gehad het nie, maar altyd ’n glimlag op sy gesig. Elke oggend was hy stiptelik op sy pos. Hy het sy werk gedoen sonder om te kla, altyd reg om te kyk waar hy ander kan help.
Een naweek, toe ons oortyd moes werk, vat ek hom huis toe. Ek was verbaas om te sien hoe vêr weg hy gebly het. Maar ek was nog meer verbaas toe hy my vertel dat hy net na vieruur moet opstaan om ’n taxi na die trein te neem, êrens oor te klim op nog ’n trein en dan drie kilometer na die fabriek te stap. Vanaand is dit alles net die omgekeerde en hy kom nooit voor agt tuis nie.
Nimrod was ’n eenvoudige mens, maar is vir my ’n super voorbeeld van hoe Paulus aanbeveel ’n werknemer moet wees: 9Praat ook met werkers en diensknegte wat vir ’n eienaar werk. Sê vir hulle hulle moet respek vir hulle eienaars hê. Hulle moet al die opdragte uitvoer wat aan hulle gegee word.
Selfs op die twee wonderlike wingerdplase waar ek gewerk het, was daar ’n hoop werknemers vir wie jy enige tyd van die nag of dag kon vra om te kom help, dan is hulle net daar. OK, by sommige van hulle het jy geweet moet jy op ’n Maandagoggend maar liewers verbyloop.
Die gemeenskaplike faktor: respek. Ons het mekaar met respek behandel. Ek het hulle geëer vir wie hulle was en vir die werk wat hulle na die tafel toe gebring het. Maak nie saak wat hulle opleiding was en tot waar hulle geleerdheid gestrek het nie, as iemand hul werk reg gedoen het, het ek vir hulle respek gehad.
Tog, by hierdie mense met die bloukraaghempies het ek geleer van daai stukkie meer doen. Baie keer het hulle uit hulle eie dienste gelewer wat nie deel uitgemaak het van hul werksbeskrywing nie. Wat ’n groot plesier was dit nie om hierdie mense deel van die werksmag te kon hê nie!
En dit is wat ons as Christenwerknemers moet doen. Ons elkeen moet ook plekkies soek waar ons meer kan doen, al word dit nie eens altyd raakgesien nie. Dan sal ander vir ons respek hê en so ook iets van God raaksien.
Teks
Tit 2:6-8
Om oor na te dink
As ek na jou kollegas sou gaan en vra wat leer hulle by jou, wat sal dit wees?
Sien hulle vir God deur jou manier van werk?
Dwing jy respek af?
Gebed
Here, help my om veral in die manier hoe ek my werk doen, ‘n getuie vir U te wees. Selfs al word ek nie nou daarvoor beloon nie, weet ek U sien alles raak. Amen.