Wie is aan die steel van jou?
Orals waar ek kom, voel dit vir my of daar iemand is wat besig is om iets te vat wat nie syne is nie. Toe ek nog in die besigheidswêreld was, het ek in ’n stadium agtergekom dat die gebruik van die skroefies aansienlik toegeneem het. Na ’n ondersoek kom ek agter dat een van die werkers elke dag net na sy toesighouer óók ’n paar pakkies skroewe by die stoor gaan trek. Binne 14 dae word R1500 net aan skroefies verloor. Dit het my woes vies gemaak! Hoe kan een mens sommerso van ’n ander vat?
Maar dit is nie net beperk tot die besigheid en geld nie. Selfs in die kerk wil mense kom steel. Kan jy dit glo? In die kerk! Sjoe! Paulus vertel dat hulle na die leiers van die kerk in Jerusalem moes gaan. Titus moes saam. Titus was egter nie besny soos deur die wet voorgesê is nie. Tog vertel Paulus dat daar sommige was wat dinge anders gesien het: 4Maar daar was wel ’n paar mense wat wou hê dat hy besny moes word. Hierdie spul vals mense het die kerk skelm-skelm binnegesluip om te kom kyk of ons al die reëls en wette van die Jode nakom. Hulle wou die vryheid waarmee Jesus Christus ons vrygemaak het, van ons af wegvat en ons weer van voor af slawe van al hulle wette en reëls maak.
Dit kos die heeltyd keer. Keer dat iemand van buite en soms van binne die kerk nie kom en ons vreugde steel nie. Het jy al na ’n gesprek met iemand anders skuldig gevoel omdat jy nie al die reëls en regulasies navolg soos wat daardie persoon dit doen nie? Het jy dan getwyfel of jou plek wel voorberei is by jou Skepper soos wat jy al die tyd gedink het? Het dit vir jou gevoel of jy dit nie eintlik gaan maak nie?
Dis ’n dief wat jou so laat voel!
Dit is iemand wat dalk nie heeltemal verstaan wat Jesus aan die kruis kom doen het nie. Die persoon probeer dit wat hy glo op jou afdruk en probeer jou deur oortuigende stories verkeerd bewys. Die persoon is egter aan die steel by jou. Hy steel jou vreugde. Hy laat jou mismoedig voel en sommer ook twyfel. Moet jou nie daaraan steur nie. Moenie toelaat dat ander mense, al is hulle ook deel van die kerk, jou in ’n hoek vasdruk en by jou vat wat nie hulle s’n is nie.
Om elke hoek en draai soek die satan ’n plekkie om jou van koers af te laat draai, want hy weet ’n ongelukkige mens is ’n maklike teiken. Ja, wanneer ek mense moes verhoor omdat hulle dinge gevat het wat nie hulle s’n was nie, was my vreugde gesteel. Dan voel dit vir my ek wil alles agter my toesluit en sommer die see in ry. Voel jy ook soms so?
Ons moet dit nie toelaat nie. Soos Paulus moet ons alles ingooi: 5… Met al ons krag het ons gekeer dat die regte evangelie wat ons preek deur hierdie spul verander word. Iemand hou nie van die feit dat ons in die lewe, al gaan dit soms maar vrek swaar, nog steeds kan lag en spring en met vreugde die lewe kan stormloop nie. Ons moet ’n wag aanstel om te keer dat slinkse mense ons ruimte betree en negatiewe saad saai en so ons vreugde steel.
Jesus het juis aan die kruis gesterf sodat ons nie meer so swaar hoef te dra nie. Hy het ons juis kom vry maak. So, as daar iemand is wat die kettings en boeie vir jou wil teruggee, jaag hom weg.
Ons kan lag en vreugde ervaar, want God is daar!
Teks
Om oor na te dink
Waar probeer die duiwel jou trip?
Wat moet jy in plek kry om nie ge-trip te word nie?
Het jy die guts om dit te doen?
Gebed
Here, dankie dat U die kettings van die wet kom losmaak het. Dankie dat ons vry kan wees om die lewe te kan geniet. Help ons om ons vryheid te beskerm. U het ons vrygemaak sodat ons waarlik vry kan wees. Amen