God se Woord in vandag se woorde

Wie sit op jou stoel?


Die kere wanneer manlief en vroulief die maklikste haak, is wanneer hulle nie mekaar se punt wil insien nie. Dit geld eintlik vir enige verhouding. Gesinsverhoudings, werksverhoudings, familieverhoudings, noem maar op.

Ons haak met mekaar wanneer die eie ek die hoofrol speel. Ons haak wanneer ons geen ruimte vir die ander een se manier van doen het nie. Dit is net my wil en klaar.

Dit is ’n baie gevaarlike manier van die lewe leef, want ongelukkig is ek nie altyd reg nie, of my manier van doen is nie altyd die enigste manier nie. Daar is baie ander en beter maniere van ’n ding doen as die een waarin ek glo as die beste en enigste manier.

God ken ons elkeen so goed – Hy het ons immers gemaak. Hy weet dat ons ons eie kop gaan volg en Hy weet ook waarheen ons op pad is met ons eie manier van doen. Daarom het Hy vir ons iemand gegee om ons te help om die lewe reg te leef.

Ons moet egter eers van ons eie stoeltjies afklim en toelaat dat die Heilige Gees ’n sê het in ons lewens. Daarná moet ons luister en Sy raad volg.

7Die Heilige Gees, wat deur God aan ons gegee is, is nie lafhartig nie, maar sterk. Hy maak ons ook sterk, gee vir ons liefde vir ander en help ons om nie verkeerde dinge te doen nie.

Ons is darem partymaal net eenvoudig te hardkoppig om te leer. Hier kry ons ’n ongelooflike Hulpmiddel, Vriend, Raadgewer, Rigtinggewer, Onderwyser, ens. en ons sê nee, ek dink ek weet die beste. Ek bly maar eers op my stoeltjie.

Ons kan tog so hardkoppig wees! Ons weet nie lekker hoe om elke situasie te hanteer nie. Ons weet ons maak foute en stamp ons koppe. Ja, ons laat selfs lyke op ons pad agter, maar ons maak nie ruimte vir die Heilige Gees nie. Hardkoppig, sê ek jou!

Luister mooi na die vers: Die Heilige Gees is deur God aan ons geskenk. God is die Een wat ons gemaak het. Hy weet waar ons tekorte lê. Hy weet waar ons verkeerde besluite gaan neem.

God weet dat ons nie op ons eie in staat is om altyd in liefde op te tree nie. Hy weet daar gaan situasies kom wat ons nie op ons eie sal kan hanteer nie. Daarom weet Hy ook wat die antwoord of oplossing is. Die oplossing vir daardie uitdagings is die Heilige Gees. Hy is sterk genoeg om enige situasie te kan hanteer. Hy is immers self God.

En tog kies ons dikwels om self reg te kom! Wie is dan nou eintlik die lafaard?

Hier is ’n maklike toets om te bepaal wie is in beheer van jou lewe. Sê gou “ja” of “nee” op die volgende vrae:

  • Ek is in alle omstandighede sterk.
  • Ek gee altyd liefde vir ander.
  • Ek help altyd ander mense.

As jy op enige van die vrae nie 100% ja kan sê nie, is die Heilige Gees nie altyd in beheer van jou lewe nie. Dit is ongelukkig waar van ons almal. Daarom is dit so belangrik dat ons elke dag onsself weer en weer tot die Heilige Gees verbind. Ons moet vir God vra om ons te help om eers weer van ons eie stoel af te klim om só plek te maak vir die Heilige Gees om beheer oor te neem.

Dit is nie maklik nie, want dit werk eintlik teen ons grein in. Ons wil altyd in beheer wees. Ons wil altyd self oor alles besluit. Ons wil maak soos ons wil, anders voel dit asof ons ons identiteit verloor. Maar dit is tog ’n resep vir chaos!

Wil jy nie weer die beheer teruggee aan die Heilige Gees nie? Kyk weer na vers 7 se belofte: Dan sal jy sterk wees in alle omstandighede, dan sal jy voortdurend liefde wil uitdeel aan ander mense en ander tog so graag wil help …

Probeer dit!

Teks
2 Timoteus 1:3-7

Om oor na te dink
Wie sit op jou stoel?
Wat moet jy maak om plekke te ruil met die Heilige Gees?
Hoe kan jy keer dat jy nie weer daar gaan sit nie?

Gebed
Here, U moet meer word en ek minder …  Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek