Wil jy soms mense platry?
’n Tyd terug vertel ’n vriend van my hoe swaar hy kry. Daar het ’n persoon in sy lewe ingedons en ’n wig tussen hom en sy ma ingedruk. Eintlik het die persoon sy ma by hom kom steel en alles wat tot nou toe mooi was met ’n groot modderige uitveër kom verwoes. Dis asof hy glad nie meer ’n ma het nie. Oënskynlik lyk dit of sy ma gelukkig is, maar die res van die familie se vreugde is gesteel.
Ek dink aan my vriend as ek die teks lees: 32Behandel mekaar mooi en goed. Laat dit vir ander lekker wees om by julle te wees.
En dit is presies wat die man in sy ma se lewe nie gedoen het nie. Hy het net aan homself gedink en nie ’n saak gehad of dit vir die res van die betrokkenes lekker is dat hy in hulle lewens ingestap het nie. En saam met my vriend wil ek die teks in groot vet letters op ’n banier uitdruk en voor sy huis gaan ophang. Ja, jy sê jy is ’n Christen, maar kyk hoe behandel jy ander. Dis nie lekker wat jy doen nie. Dis nie lekker dat jy ons verhoudings opdons nie. Dis nie lekker nie…!
Die probleem met die teks is dat dit nie daar stop nie en wanneer ek dan die tweede gedeelte van die teks lees, raak my asem op: 32… Sien mekaar se foute oor net soos God julle foute oorgesien het omdat julle Jesus s’n is.
Ai jai jai jai jai!
“Sê gou vir my, hoe moet ek die persoon se “fout” net so oorsien?” hoor ek my vriend sê. Nee, eintlik vra ek (en dalk ons almal) dit kliphard saam, want baie mense het my al in die tande geskop. Hulle is die mense wat al die fun het. Hulle is die mense wat voëlvry buite die huwelik se grense speel, dis hulle wat met al die gesteelde geld net nog beter en grander en groter en mooier dinge koop. Hulle het my menslikheid gesteel. Weens hulle sit ek nou met ’n emosionele vrag wat selfs my shrink nie uitgesorteer kry nie. Hulle het al die fun! En ek? En jy?
Ek wens so ek het ’n towerstaffie wat vir elkeen ’n antwoord op die vraagtekens kan gee. Ek wens ek het ’n direkte lyn na Bo, sodat ek vir my en jou ’n boks vol antwoorde kan kry. Maar helaas…
Ek praat met ’n vriendin wat baie seergekry het deur buitestaanders wat net hulle hande ingedruk en gevat het wat nie hulle s’n was nie. Ek praat oor vergifnis met haar. Sy is eerlik en sê dat sy nog nie daar is nie. Sy weet nie of sy gaan stop as een van hulle voor haar kar instap nie.
Ek besef net dat ek nie alleen alles kan doen nie. Ek besef dat my manier van doen juis wegbeur van vergifnis en eintlik net wil haat. Ek besef al my tekortkominge. Ek weet God vergewe my. Ek weet dat ek ander se foute moet oorsien en ek kry dit in baie gevalle reg. Maar daardie wat so diep seergemaak het – dis hulle wat my in die hek laat duik met vergeet en vergewe.
Sonder antwoorde sluit ek af en saam met jou skree ek na Bo: “O, God my God, waar sal my hulp vandaan kom!”
Teks:
Om oor na te dink
Wie het jou so seergemaak?
Sukkel jy ook met vergifnis?
Het jy ook hulp nodig?
Gebed
“O, God my God, waar sal my hulp vandaan kom?” Amen