WOW! Dis 4 jaar later!
Die einde van die maand is ons van der Merwes 4 jaar voltyds in die bediening. Sjoe, tyd vlieg darem! As ons so terugkyk, kan ons net een ding sê: Daar moet ‘n God wees! Ja, ons was so bang om die besigheid te los, maar ons kan getuig dat God ons op die hande dra.
Hier is ‘n bietjie terugvoer oor die Kruispadbediening. Aan God al die eer.
Groei
Die Kruispad bediening het die afgelope 4 jaar uit sy nate gegroei met duisende nuwe gebruikers. Aanvanklik het ons net e-posse gestuur, maar Kruispad is nou beskikbaar op Facebook, Twitter en LinkIn. ‘n App (vir Android en iPhone) is ook spesiaal ontwikkel (laai dit via die App Store of Play Store af). Ons stuur nou die weeklikse Kruispadboodskappe ook via WhatsApp. Indien jy dit op WhatsApp wil ontvang, kliek hier.
Oor die App word die volgende gesê:
Thank you! This is truly a light in the darkness.
It is awesome!!!
Great App! Love it!
Very compact and user friendly!
Great work guys. Great design and good native feel.
Life changing!
Weens die groot aantal e-posse wat ons uitstuur, haak sommige in die ontvanger se posmeester-filters vas. Om te verseker dat jy die Kruispadboodskappe elke keer ontvang, laai die App af, of vra dat dit via WhatsApp na jou gestuur word
E-posbediening
Kruispad se visie is God se Woord in vandag se woorde en die hoof fokus van die Kruispadbediening is om die gebruikers te help om weer by God se Woord uit te kom. Daar word 3 keer per week bybelstudies uitgestuur via al die platforms aan 70 000+ gebruikers.
Jy kan ook help om die boodskappe by ander uit te kry deur die Kruispad skryfstukke aan jou vriende te stuur en dit na ebyb@kruispad.com te CC. Dan sal ons hulle op die poslys plaas.
Pastoraat en Gebed
Daar is soveel nood daar buite. Verhoudings wat sneuwel, gesinne wat uitmekaar spat, besighede wat aan draadjies hang, depressie, selfdood-neigings en pogings, ens. Die probleem is dat mense in krisisse nie altyd ‘n verhouding met ‘n pastoor of predikant het nie en dan is ons daar om hulle hande te vat.
Dit is dan ‘n groot voorreg om dié mense se hand te neem en saam met hulle deur die nood te stap.
Ons is dankbaar vir meer as 200 intersessors wat intree vir al die gebedsversoeke. Elkeen van die gebedsversoeke word persoonlik deur die reaksiespan hanteer. Stuur gerus gebedsversoeke aan: gebed@kruispad.com
Terugvoer
Ek is so dankbaar dat ons Vader nog steeds vir Kruispad in sy Koninkryk gebruik om ’n verskil te maak in mense se lewens. Hier is terugvoer van lesers:
Ag, ek het nie woorde om te sê hoe ek Kruispad se dagstukkies geniet en waardeer nie! Hierdie een is regtig die ware Jakob! Sjoe, as ek dink hoeveel keer ons daagliks moet tel oor die simpel en seer dinge wat mense aan ons doen – bewustelik of onbewustelik!
Jou manier van skryf is regtig so van toepassing op ons alledaagse mense lewens hier op aarde, ’n mens kan identifiseer met alles. Want dis die realiteit!
En oor Saamloop:
Ek en my man is vandag presies ‘n maand getroud. Voor ons troue was dit regtig vir ons ‘n groot prioriteit om saam Bybelstudie te doen. Ons het al verskeie boeke probeer maar na so paar keer se lees, sukkel ons. Toe koop ek sommer eendag Saamloop en vandat ons dit begin lees het – love ons dit. Ek is mal oor die manier waarop julle die stories verduidelik en terugbring na ons level. Dankie vir julle awesome boeke en materiaal. Groot waardering vir julle werk!!!
En oor die radiopraatjies:
Ek luister baie na jou en Renata op Radio Namakwaland. Wil sommer net vir julle sê dat julle my so baie bless met dit waaroor julle gesels. Dankie daarvoor.
Ek gebruik baie julle Kruispad stukkies om ons selgroep op Vanrhynsdorp te lei. Random kies ek een en as ek begin lees, is dit presies waarmee God met my besig is.
Thanks vir julle opofferinge, boodskappe en sommer net vir julle stemtone!
Radio
So gepraat van die radio. Ek en Renata het elke oggend om 06h50 ’n drie minute gleuf op Kanaal 7, een van Namibië se grootste radiostasies. Ons neem die praatjies in ons stoorkamer op, verwerk dit en laai dit dan in Dropbox. Dis darem wonderlik wat ’n mens deesdae met die tegnologie kan regkry.
Ons het ook die voorreg om Donderdae-oggende om 07h35 op Radio Namakwaland te praat
Personeel
Johan Laten het Maart 2015 voltyds by Kruispad aangesluit. Hy is verantwoordelik vir al die optredes en skryf toneelstukke om die boodskap visueel uit te dra.
Die nuutste projek is die bewusmaking van depressie, veral gerig op tieners. Die fokus is om kinders te help verstaan dat dit nie ‘n skande is om depressie te hê nie en dat depressievegters daaroor moet praat. Met die toneelstuk, #puppet, word die leerders gehelp om die siekte te verstaan en hoe om teenoor depressievegters op te tree. Na die opvoering word die leerders ingelig by wie hulle by die skool kan aanklop indien hulle hulp met depressie nodig het. Verdere ondersteuning word verleen met ‘n gratis depressie-selfhelpgids en joernaal op die webwerf.
Skole en enige groepe/organisasies wat meer inligting oor die opvoering van #puppet wil bekom, kan Johan by johan@kruispad.com kontak.
Johan kan ook gekontak word indien julle vir my en of Johan wil nooi vir optredes in julle geweste. Kliek hier vir meer inligting rakende die optredes.
Marika Möller het in die middel van die jaar by ons aangesluit om te help met die administrasie. Vir enige administratiewe haakplekke, kontak haar by marika@kruispad.com.
Onthou om asseblief jou vriende aan te beveel. Jy kan hulle besonderhede ook vir Marika stuur. Sy sal toesien dat hulle op die korrekte platform geplaas word, sodat hulle ook Kruispad kan ontvang.
Namibiese toer
Ek is dankbaar om te sê dat die toer deur Namibië baie suksesvol was. Eddie en Linda van der Merwe het in Keetmanshoop by ons aangesluit en as gaskunstenaars opgetree. Die eerste helfte van die aand was lig en die tweede helfte geestelik met die vergifnis van Jesus se kruisiging as die sentrale boodskap. Johan het weer die aangrypende toneel gebring van die man wat Jesus aan die kruis vasgespyker het.
Ons het mense tyd gegee vir refleksie op hulle lewens en hulle uitgenooi om gebedsversoeke op ’n papier te skryf en vir ons te gee. Dit was aangrypend om die ware verhale te lees en wonderlik dat daar mense was wat hulle harte vir die Here gegee het.
Die laaste 4 optredes het die Manne wat Glo, dis nou Jan de Wet, Leon Ferreira, Dewald Gouws en Willie Joubert, by ons aangesluit. Saam met hulle is die vergifnis tema nog verder uitgebrei, met veral ’n lied van Jan wat gaan oor vergifnis wat ons vir ander moet gee.
Terugvoer van die toer:
Dankie dat julle gehoor gegee het aan God se roepstem en dit met ons deel.
Julle was ’n “eye opener” vir ons almal. Dankie, dat julle op so ‘n mooi manier ons weer opnuut kom bewus maak het van God se onvoorwaardelike liefde.
Julle het jul goed van jul taak gekwyt! Die Here was absoluut teenwoordig. Dankie vir gisteraand by Walvisbaai!
Here, ek weet ek het baie foute in my lewe gemaak. Here, ek is soos ’n potlood: Ek kan skryf en uitvee, maar my merk bly agter. Here, ek vra nou vir U om my sondes te vergewe. Here, help my dat ek dit nie weer hoef te doen nie. Here, ek maak my hart vir U oop. Kom leef binne my en help my deur my lewe verder. Ek vra dit in U Naam.
Ek het julle baie geniet. Was wonderlik om saam met ander gelowiges die Here te loof en prys. Vanaand wil ek graag vergifnis vra. Die vrou wie se huwelik ek opgebreek het, sit ook in die gehoor. Ek sal van God en haar vergifnis vra.
Saamloop
Ons is so dankbaar dat daar met Saamloop baie saad in die grond kom. Met stemdag word ek bederf:
Ek stap by die stemlokaal uit, toe keer ‘n biblioteekaresse my voor. Sy sê sy lees baie boeke. Sy gaan nou deur ‘n harde tyd in haar lewe. Sy lees nou Saamloop vir ‘n tweede keer deur, want dit help haar dra.
Net daarna ry ek by ‘n sekuriteitshek in. Die wag sien die Saamloop op die sitplek. Hy sê: O, Saamloop! Ek ken daai!” Ek vra hoe so? Hy sê: Ek en drie ander wagte kom een keer ‘n week in ‘n hokkie saam dan lees ons ‘n stuk.”
Net daarna vertel my vriend dat hulle groepie ook ‘n Kruispad boek doen. Die groepie bestaan uit onderwysers, ‘n ingenieur, advokaat en ‘n besigheidsman.
Dis wonderlik om te sien hoe God Saamloop gebruik in alle sfere van die lewe.
Saamloop is ‘n kronologiese Evangelie waar al die stories van Jesus in Matteus, Markus, Lukas en Johannes saamgevat is. Op ‘n manier help Saamloop jou om Jesus se hand te neem en te leer hoe om die lewe vandag te leef.
Dan ‘n uitdaging vir jou: Wil jy nie help om die saad in die grond te kry nie? Dalk weet jy van iemand wat Saamloop nodig het. Iemand wat swaarkry of dalk net hulp nodig het om die lewe saam met Jesus aan te pak. Dalk het jy n behoefte daaraan. Bestel ‘n kopie van Saamloop deur hier te kliek of stuur ‘n e-pos aan boeke@kruispad.com. Koste is R175 per boek of R600 vir 5 boeke + gratis geskenk. (koerierkoste uitgesluit)
Ek is so ernstig om die saad in die grond te kry dat ek selfs ‘n kopie gratis sal stuur as jy dit nie kan bekostig nie. Tik deo gloria by die koepon blokkie.
Met ons Van der Merwe-gesin gaan dit regtig baie goed en ons loof die Here daarvoor. Ons kon in die Junie vakansie weggaan en die rus was wonderlik! Alet-Mari maak reg vir die pylvak in Matriek en Mia het gewys wat in haar steek nadat sy vanjaar (Graad 11) met twee nuwe vakke (Biologie en Skeinat) begin het en dit goed deurgekom het. Benno swem nog sterk by Maties en het goed aangepas in Paul Roos.
Dit is vir my en Renata so ‘n GROOT voorreg om ons droom te mag leef. Ek sê altyd daar moet ‘n God wees, want dis net Hy wat met ‘n krom stok soos ek ‘n reguit hou kan slaan. AAN HOM AL DIE EER!
‘n Groot dankie vir almal wat agter die skerms hard werk met vertaling, administratiewe take en almal wat vir ons intree. Baie dankie vir elkeen wat ons bediening ondersteun. Daarsonder kan ons nie die bediening in die lug hou nie. (Indien jy gelei voel om betrokke te raak of die bediening wil ondersteun, kliek gerus hier.)
Mag jy ‘n wonderlike dag beleef.
Gerjo Ben, Renata en die res van die Kruispad familie