Wys vir mekaar die pad
In die laaste hoofstuk van die brief aan die Galasiërs gee Paulus baie praktiese raad. Die eerste een is nie altyd so maklik om uit te voer nie: 1My broers en susters, as ander gelowiges aan die een of ander sonde toegee, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, hulle dadelik reghelp. Bring hulle terug op die regte pad sonder om hulle te veroordeel. Tree vol deernis op. Maar pas op sodat julle self nie voor die sonde swig nie.
Dit is nie vir almal maklik om ander op hulle sonde te wys nie. Ek is nie ’n persoon wat na ’n ander kan stap, hom voor die bors gryp en vra wat is sy storie met die Here nie. Gaan jy draai of braai? En daarom wil ek dadelik verskoning maak en sê dat hierdie opdrag van Paulus nie my gawe is nie. Dit moet cmaar oorstaan vir ’n volgende ou.
Tog is die opdrag van Paulus nie net vir spesifieke mense met sekere gawes bedoel nie. Nee, ons elkeen het die verantwoordelikheid om ons vriende te wys waar hulle oor die tou trap. God wil juis vriende gebruik om mekaar op die pad te hou. Die meeste van die kere het ons as vriende die outoriteit en die magtiging om mekaar reg te help.
Daar is egter ’n paar voorwaardes. Ons kan nie maar net op ons eie besluit om die ou wat volgens ons in die sonde bad, voor die strot te gryp en hom goed laat verstaan waar hy of sy die pad kwyt is nie. Nee, dis die Heilige Gees wat ons moet oortuig om met iemand te praat. Hoor mooi! Dis nie ek of jy wat regter is en besluit wie reg of verkeerd is nie. Dis die Heilige Gees in ons wat ons moet lei. Daarom is dit so belangrik dat ons sensitief moet wees vir die leiding van die Heilige Gees. Die Heilige Gees weet presies waar iemand verkeerd doen en waar iemand reggehelp moet word.
As ons sensitief is vir die Heilige Gees en bewus word van sy leiding, sal ons weet wanneer ons iemand moet teregwys. Dan kan ons met outoriteit na iemand gaan, want die Heilige Gees het so gesê. Dan hoef ons nie vir die persoon wat in sonde leef te sê: “Ek dink jy leef verkeerd nie,” maar dan kan ons met gesag sê: “Die Gees het my gelei om jou te wys op dit wat jy verkeerd doen.”
Wanneer ons uit ons eie teregwys, gaan ons dit heel waarskynlik vanuit veroordeling doen. Dit kan veroorsaak dat die persoon in verdedigingsmode gaan en alles ontken. Maar wanneer jy gelei word deur die Gees, sal jy nie veroordeel nie. Op ’n manier sal jy besef jy dat jy ook op die verkeerde pad kon afdraai, maar net deur genade gespaar is. Dan kan ’n mens nie vinger wys nie. Dan kom ’n mens uit dankbaarheid en wil van die genade wat jy ontvang het, aangee aan die persoon wat ’n paar verkeerde afdraaie geneem het.
En tree met deernis op, sê Paulus. Moenie met ’n polisieman houding daar aankom nie. Sien die persoon raak soos Jesus hom of haar raaksien. Onthou jy daardie keer toe Jesus by die put gesit het by die vrou wat by ’n klomp mans geslaap het? Hy het haar nie veroordeel nie. Hy het haar eintlik nie eers laat sleg voel nie. Hy het haar met deernis gehelp om haar verkeerde dade raak te sien en dit te gaan regstel.
So wil God ons ook gebruik. Daar is baie van ons vriende, familie en selfs kollegas wat so effe van die pad is. God wil jou gebruik om ’n inspraak in hulle lewe te hê. Mag jy beskikbaar wees. Mag jy sensitief wees vir die leiding van die Gees en vol deernis en liefde ander help om terug te kom op God se pad.
Teks
Om oor na te dink
Hoor jy die Heilige Gees?
Wie lê die Here op jou hart om mee te praat?
Hoe moet jy dit gaan doen?
Gebed
Here, dankie vir vriende. Dankie vir die voorreg wat ek het om ook in hulle lewe inspraak te hê. Maak my sensitief om ook ander te help en die pad te wys en as ek weer ’n reghelp nodig het, laat ek dit vat soos ’n man. Amen