Wysheid: Proffie en die jong man
Ek lees die opdrag van Paulus oor en oor: 1… Hulle moet met wysheid optree. Dit laat dink my aan die storie wat ek van iemand ontvang het:
’n Jongman, student by ‘n universiteit, stap saam met een van sy professore, wat graag met die studente gesels en sy wyshede met hulle deel. Terwyl hulle twee in die wandelpaadjie afstap, sien hulle ’n paar ou skoene netjies langs die paadjie gebêre. Dit was waarskynlik een van die tuinwerkers wat in die nabygeleë veld gewerk het, se skoene.
Die student draai na die professor en sê: “Kom ons trek hom ’n streep, ons steek sy skoene weg dan kruip ons in die bosse hier naby weg en kyk na sy reaksie as hy nie sy skoene kan kry nie.”
“My jong vriend,” antwoord die professor, “ons moet onsself nooit vermaak ten koste van die armes nie. Kom ons sit eerder ’n muntstuk in elke skoen en dan versteek ons onsself in die bosse en kyk hoe die ontdekking hom affekteer.”
Die student maak toe so en die twee gaan kruip in die nabygeleë bosse weg en wag vir die werker om te kom. Dit was ook nie lank nie voordat hulle hom deur die veld aangestap sien kom na die plek waar hy sy skoene gebêre het.
Hy gaan sit op die gras langs die wandelpad en maak sy voete met ’n lappie skoon voordat hy sy skoene aantrek. Terwyl hy sy een voet in sy skoen steek voel hy iets hards binne die skoen. Hy steek sy hand binne sy skoen om te voel wat dit is en ontdek die muntstuk in die skoen.
Verbasing is op sy gesig geskryf terwyl hy die munt in die rondte draai en seker maak dat dit regte geld is. Hy kyk in alle rigtings om te sien of daar enige omstanders is wat hom dalk ’n poets wou bak, maar niemand was in sig nie.
Hy druk die munt in sy sak en gaan voort om die ander skoen aan te trek. Groot was sy verbasing toe hy in die ander skoen ook ’n munt ontdek. Blydskap oorval die man en hy val op sy knieë terwyl hy dankbaar ‘n gebed rig tot God oor hoe dit hom gaan help om vanaand kos op tafel te hê vir sy gesin.
Die student is diep geraak deur die gebeure wat hy so pas waargeneem het en daar is trane in sy oë. “Is jy nie bly jy het eerder die munte in die skoene gesit as om hom ‘n poets te bak nie?
Die jong student antwoord: “Dankie vir die les wat u my geleer het en wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie. Die woorde, ‘Dit is baie beter om te gee as om te neem,’ het vandag eers werklik vir my betekenis gekry, danksy u insig.”
Mag God ons help om orals waar ons gaan ons oë en ore oop te hou vir wysheid. Mag God ons help om orals waar ons gaan die wysheid te gaan uitdeel. Die wêreld en sy mense het dit so nodig.
Teks
Tit 2:1-5
Om oor na te dink
Waar kort jy wysheid?
Waar kan jy wysheid bekom?
Vir wie moet jy met wysheid help?
Gebed
Here, ek kort wysheid. Ek kort baie wysheid. Amen.