“You’ve just made my month!”
16Onthou ook om goed te wees vir ander mense. Gee ook vir hulle van dit wat jy het. God hou daarvan as ons so maak. Ek kan nie verby die vers kom nie en wil die spyker nog ’n keer indryf.
Bertha vertel dat sy ’n tydjie gelede werkloosheidsversekering wou eis, maar haar rekening was om een of ander rede geblok. Sy het met haar hande in die hare gesit en al wat sy kon doen, was om die foon op te tel en die mense by SARS te bel.
Hulle telefoonlyne was vir drie weke af en toe dit uiteindelik weer oop was, was dit natuurlik ’n verskriklike uitdaging om iemand te kry om dit aan die ander kant te antwoord.
Gelukkig kom sy uiteindelik deur en praat met ’n stem aan die ander kant. Nou vir die wag vir die rekening om weer oop te gaan, sodat sy darem weer ietsie in die sak te kry.
Twee maande later word die blokkasie afgehaal.
Bertha bel weer die kantoor en dieselfde man antwoord. Sy gee die verwysingsnommer en die stem aan die ander kant verstaan nie hoekom sy bel nie, want die rekening is dan nou oop.
Sy sê toe dat sy net bel om dankie te sê. Hy was so verbaas en antwoord met: “You’ve just made my month!”
Bertha sluit haar boodskap aan my af:
Laat ons mekaar se laste minder maak. Soms selfs dra of ten minste help dra.
Ek probeer met elke trippie dorp toe of winkel toe iemand vreemds ‘n sagte woord gee … Dan vra my jongman-seun van 19, soos wat hy al van 8 jaar af vra: “Wie is dit?”
Dan moet ek erken. Ek weet nie.
Hier’s nog ene:
Juliana vertel dat sy en haar man graag tuinmaak. Hulle bure het weer ’n geen- nonsens-tuintjie.
Skielik is daar ’n klop aan die deur. Dis die buurvrou en sy gee ’n tuin-tydskrif vir haar in die hand: “Ons geniet julle tuin so en wil julle graag bless met die geskenkie.”.
Op ’n spesiale manier gee Juliana en haar man aan hul bure ’n lushof om na te kyk en die bure vat nie net nie, maar dra die dankbaarheid oor deur ’n eenvoudige geskenkie.
Dis hoe dit moet wees en hiervan hou ons Vader so baie. Mag ons elkeen orals plekkies in ons wêreldjie soek om God te laat glimlag en meer as ander se dag te maak!
Teks
Hebreërs 13:9-16
Om oor na te dink
Maak hierdie jou ook nie lus om iets te doen nie?
Wat kan jy doen?
Wanneer?
Gebed
Vader, as U liefde ons dryf, wil ’n mens ’n mooi verskil in ander se lewens gaan maak. Ek wil so graag, help my om die plekkies in my wêreld raak te sien en gee my die krag en wysheid om dit te doen. In Jesus se Naam, amen.