God se Woord in vandag se woorde

Eers ’n krummel dan ’n koekie


Ek het ’n baie goeie kortfilm gesien wat begin met ’n man wat op sy eie laataand werk en fotostate maak. Om een of ander rede kom daar toe ’n papier uit die fotostaatmasjien met net ’n groot swart kol op. Die kol is omtrent net so groot soos die bladsy.

Die man, kom ons noem hom Frik, kyk verward na die snaakse swart kol en sit dit op die tafel langsaan en gaan rustig aan met sy kopieerwerk. Later sit hy ingedagte sy leë koppie koffie op die papier met die kol neer en doef, daar val die koppie dwarsdeur die swart kol. Nou is Frik wakker soos ’n akker. Hy steek sy hand deur die swart kol en tel sy koppie op. Hy staan verbaas en kyk na die petalje.

Toe hy opkyk, sien hy die vending masjien oorkant hom staan. ’n Mens kan die rook sien trek soos hy dink. Hy stap nader, sit die wit papier met die swart kol teen die glas van die masjien. Hy druk sy hand stadig nader en ja, daar gaan dit dwarsdeur die swart kol deur die glas en hy vat vir hom ’n sjokolade – verniet!

Terwyl hy rustig aan sy tjokkie kou, dwaal sy oë en hy sien sy baas se kantoor. Vinnig stap hy oor, sit die wit papier met die swart kol teen die glasdeur van die baas se kantoor, steek sy hand deur die papier en sluit rustig die kantoor van binne af oop. Natuurlik stap hy direk na die kluis en herhaal die proses met die swart kol.

Hy haal pakke note uit. Sommer baie. Later is hy halflyf deur die kol in die kluis in en die hopie note raak al hoe hoër aan die buitekant. Om die laaste pakkie of twee uit die kluis te haal, klim hy heeltemal in. Net toe hy in is, val die wit papier met die swart kol af van die deur af …

Die film vertel baie en is so in die kol (no pun intended!). Dis hoe die duiwel ’n mens vang. Eers ietsie kleins soos ’n sjokolade, dan ietsie groter en voor jy jou kom kry, is dit te groot om om te draai en een of ander tyd braai die kaiings uit en jy word vasgetrek.

28As iemand ’n lewe gemaak het deur ander mense se goed te vat, moet hy dadelik daarmee ophou. Hy moet vir hom ’n behoorlike werk kry en sy brood eerlik verdien. Hy sal dan nie net vir homself kan sorg nie, maar ook nog genoeg oorhê om vir mense wat niks het nie, iets te gee.

En dadelik wil die meeste van ons hier ophou lees, want ons steel nie. Dalk neem ek dit nou te ver, maar as ons nie die volle waarheid praat nie of net ’n stukkie van die waarheid wegsteek, steel ons mos. Ons steel van die waarheid. Hier val die meeste van ons ook in die swart kol.

Selfs om tydens werksure dinge te doen wat niks met die werk uit te waai het nie. As jy nie toestemming het om dit te doen nie, steel jy dan nie van die baas se tyd nie? Sal jy toelaat dat die baas elke oomblik van die dag in jou kantoor sit en kyk hoe jy sy tyd bestee? Sjoe, nie ’n maklike een dié nie.

In alles wat ons doen, moet ons ten volle eerlik wees. Ons moet pasop dat ons nie met ’n klein dingetjie ingekatrol word om later groter oneerlikheid in ons lewe toe te laat nie. Jy begin dalk net met ’n krummel, maar op ’n volgende rondte is dit dalk die hele koekie.

Teks:

Efesiërs  4:17-32

Om oor na te dink

Staan jy vir die waarheid en die waarheid alleen?

Waar staan dalk ’n deur oop om die waarheid te systap?

Hoe kan jy die deur toe maak?

Gebed

Vader, help my om die duiwel nie ’n vatkans te gee nie. Ek wil in alles 100% eerlik wees. Help my om my oë oop te hou waar oneerlikheid dalk sy intrek wil kom neem en dit dan uit te roei. Met U Gees is alles moontlik. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek