Tussen ’n bribe en ’n lead
Dit is nie altyd maklik om vandag te onderskei tussen reg en net so-effe af van reg nie.
Tieners verstaan dikwels nie hoekom dit verkeerd is om ’n liedjie van YouTube af te laai nie. Dis mos nie skelm nie. Almal doen dit dan oop en bloot. Wat is nou verkeerd daarmee?
Ek hou daarvan om soms net soos ’n aartappel op die bank te sit en na ’n niksseggende boomklim-, skop-skiet-en-frommel fliek te kyk. So kom een van my dogters baie opgewonde met ’n splinternuwe fliek op haar stokkie hier ingehol. Die fliek is nog nie eens in Suid-Afrika bekendgestel nie.
Sy is baie afgehaal toe ek vir haar sê dat dit nie reg is nie. Eintlik verstaan sy dit nie.
Ek maak haar sit. Ek vra haar of sy weet dat ons finansieel afhanklik is van die verkope van die boeke wat ek skryf. Sy weet hoe ons geldsake werk en sê: “Ja, dit betaal nie alles nie, maar dit help.” Ek vra haar toe hoeveel geld kry ons as iemand ’n e-boek van ons sommerso gratis by ’n vriend kry en hy gee dit weer vir ’n klomp ander aan?
Stadig sien sy die prentjie van die ander kant af.
Ons het ’n verantwoordelikheid om seker te maak dat ons nie ’n rat voor die oë gedraai word nie. Daar is mense wat ons ’n rat voor die oë wil draai. Daar is mense wat ons wil inloop. Ons moet hiervan bewus wees. Ons moenie toe-oë deur die wêreld stap en sê ons het nie geweet nie: 6Moenie julle laat bedrieg deur mense wat hierdie dinge wil goedpraat met baie woorde wat eintlik dolleeg is nie. Sulke dinge bring mense in die moeilikheid by God. God sal hulle straf as hulle nie na Hom wil luister nie. 7Bly weg van sulke mense af, hoe verder, hoe beter.
Ons moet naby God leef sodat sy Gees ons sal wakker skud as mense wat ons om die bos wil lei voor ons staan. Ja, ons elkeen het ’n storie waar iemand ons al ingeloop het. Ek vermoed dat ons dalk nie sensitief was vir die leiding van die Heilige Gees op daardie oomblik nie.
Dit is nie altyd so maklik nie. Ek kry ’n e-pos van iemand in die motorhandel:
Vragmotors kom sonder bakke uit die fabrieke. Wanneer die vragmotors verkoop word, kies die kliënt ’n tipe bak. Ek vervaardig bakke vir trokke en ontvang die bestelling van die verkoopsman. Vir die produk wat ek vervaardig het, word ek bv. R50 000 betaal, maar nou kom die verkoopsman na my toe en vra sy kommissie. Dit was nie deel van die oorspronklike koopkontrak nie.
Nou wonder ek: Is dit net dankie sê? Is dit ’n bribe? Is dit dieselfde as wanneer iemand vir jou ’n lead gee en jy sê vir hom dankie?
Ander vervaardigers vergoed hulle en dit gaan finansieel BAIE goed met hulle.
’n Vriend van my sê dat ons maklik ’n bribe toesmeer onder ’n finder’s fee kombersie.
Jy sien, dis nie altyd so maklik om te onderskei tussen reg en die grys area nie. Ons moet seker maak dat ons binne die wil van God lewe, want in die grys areas van die lewe droog God se seën op. Inteendeel!
Dit is ons verantwoordelikheid om seker te maak dat ons nie ’n rat voor die oë gedraai word nie. Maar meer nog, ons moet seker maak dat ons nie ander mense ’n rat voor die oë draai nie!
Om oor na te dink
Hoe reguit loop jou pad?
Reageer jy op die Heilige Gees se leiding?
Is daar dalk ’n grys area in jou lewe?
Gebed
Here, help my om orals die reguit pad te stap. Help my om te onderskei waar ek buite die wil van U stap. Beskerm my teen ander wat my om die bos wil lei. Help my om hulle gou uit te snuffel. Amen