Skop, skiet en boomklim
Die vergifnis van sonde en wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het, moet ons oor en oor op verskillende maniere hoor sodat ons dit aan ons lyf kan voel. Ons moet elke oomblik van die dag weet wat Jesus gedoen het en dan ook ’n lewe van oorwinning leef.
15Dit kan ook nog op ’n ander manier gestel word: Jesus het die vyandige geestelike magte en kragte totaal verslaan. Hy het behoorlik bo-oor hulle geloop. Hierdie geestelike magte kan nou net magteloos in kettings voortstrompel terwyl Jesus as die groot Wenner vooruitstap. In hierdie optog word Jesus se oorwinning aan die kruis feestelik gevier. Dit is daar vir almal om te sien.
My vrou en kinders kuier vir ’n week by haar suster in De Doorns sodat die niggies en neef met mekaar kan speel in die vakansietyd. Ek besluit om ’n slaggie vir my ’n DVD van my eie smaak te gaan uitneem en ja, dit was Bruce Willis.
Sjoe, hy het weereens nie te goed gelyk na al die bakleiery met die baddies nie, maar vir hulle het hy uitmekaargeskiet dat jy net rook sien trek. Ek weet dit is nie almal se smaak nie en dat vrouens gril en nie verstaan hoekom mans na sulke skop, skiet en boomklim wil kyk nie, maar met geen kind om voor te keer nie, kon ek dit ’n slaggie geniet. Na die DVD het ek soos ’n babatjie geslaap. Moeg en uitgeput van al die aksie.
Toe ek hierdie beeldspraak van Paulus lees kon ek nie help om terug te dink aan Bruce se bakleiery nie. Met die regte gereedskap in die hand haal hy die vyand uit en hy bloei ook met bloedtenke wat nooit leegraak nie.
Dit is wat Jesus gedoen het. Hy het die vyand oorwin, bo-oor hulle geloop en al hulle kragte uit hulle geneem. Hulle is die verloorders en Jesus die Wenner, die Held. Soos Bruce die slegte uit die samelewing kom verwyder het terwyl die vonke en rook nog uit die bose trek, só het Jesus ook klaargespeel met die bose.
Nee, ek sê nie Bruce is soos Jesus nie. Ek maak dit net vir my visueel om dit wat Jesus 2 000 jaar gelede aan die kruis gedoen het, in my kop verstaanbaar te maak. Bruce was dan net die vorige aand hier in my sitkamer besig met ’n geveg. Ek vermoed mans gaan die analogie beter begryp as vroue.
Tog kos dit Jesus baie meer. Met al die klomp lood in Bruce se lyf en bloed wat by al die gate uitsypel, roer daar ’n vinger na 5 minute van doodse stilte: hy leef!
Jesus is nie so gelukkig nie. Dit kos vir Hom meer as net Sy bloed. Dit kos ook Sy lewe. Jesus moes eers sterf, maar die oorwinning oor die bose kom dan juis wanneer Hy opstaan uit die dood. Dink net aan die groot teleurstelling van die bose toe hulle vir ’n bietjie langer as ’n dag partytjie gehou het en gedink het hulle het gewen.
Maar dan word daar ’n bak yswater oor hulle vreugdevure gegooi, want Jesus het opgestaan! Hy is die ware Oorwinnaar! Hy is die ware Held. Hulle die verloorders.
Bruce se bottels vol tamatiesous sal eendag opraak, maar Jesus se bloed sal nooit te min wees om jou en my sondes weg te neem nie.
Kom ons dank Hom daarvoor!
Teks
Om oor na te dink
Wat beteken Jesus se dood aan die kruis vir jou vandag?
Wat doen Jesus se bloed vir jou?
Veg jy elke dag saam teen die uitdagings?
Gebed
Jesus, dankie dat U bereid was om U lewe op te offer sodat die bose vir altyd oorwin kon word. En omdat U die ware Oorwinnaar is, kon selfs die dood U nie gevange hou nie. Ons loof en prys U grote Naam. Amen.