God se Woord in vandag se woorde

Die stasiemeester se trein


My groot vriend, ons noem hom die Stasiemeester, en sy vrou raak sestig en hulle nooi ’n groep vriende om te gaan verjaarsdag hou by die Muisbosskerm, daar aan die Weskus.

Kyk, as jy nou jou vingers wil afeet en jou maag doer wil laat staan, moet jy hier kom draai en maak soos die Spur se advertensie sê: “Come hungry!” En het ons nie geëet nie! Dit was regtig lekker om so saam met ’n klomp vriende ‘n goeie vriend se groot nommer verjaarsdag te vier.

Daar was nie baie speeches nie, want dis nie eintlik my vriend se styl nie. Hy het net ’n eenvoudige storie vertel van sy lewe wat soos ’n trein is en vriende wat by die stasies van sy lewe opgeklim het. Sommige van die vriende het langer gebly as ander, maar almal van hulle het ’n impak gemaak op sy lewe. Daarvoor sê hy dankie!

Maar eintlik moet ons vriende vir hom dankie sê vir die voorreg wat ons het om op sy trein te mag ry. Jy sien, dis eintlik nie so moeilik om op sy trein te ry nie, want orals waar die trein deur die lewe kronkel, is dit heeltyd net speeltyd. Op die vriendetrein van die Stasiemeester, word jy net bedien. Bedien met enige iets om die lewe vir jou makliker te maak.

Selfs as jy hom bel, antwoord hy met: “Waarmee help ek vandag?” of “Wat kan ek vir jou doen?”

Ek het gesê dis nie sy styl vir speeches en baie woorde nie. Sy styl is eintlik om te praat deur sy dade. Ek vermoed êrens in sy lewe het hierdie opdrag deel geword van sy hele wese en kan hy nie anders as om dit orals te doen waar hy gaan nie: 16Onthou ook om goed te wees vir ander mense. Gee ook vir hulle van dit wat jy het. God hou daarvan as ons so maak.

Eintlik is ons almal stasiemeesters en kry ons heeldag die kans om mense op treine te laai. Sommige laai ons op ons eie vriendskapstrein. Dis deel van die opdrag om goed te doen aan die mense om ons.

Ek weet egter van agter die Stasiemeester se rug luister, dat hy baie ander op hulle treine help. Hy klim sommer gou op ’n vriend se kind se trein en verleen raad oor die spore van die lewe wat voorlê. Soms stap hy daar op die perron om mense wie se trein langs die pad gaan staan het, weer aan die loop te help. Soms kos dit tyd, baie keer raak dit aan sy beursie. Meeste van die kere trek dit amps.

Hy’s ’n voorbeeld vir ons almal. Ja, ek weet hy glip ook soms oor die grens, maar ek weet dat God gereeld met ’n glimlag sit as hy die Stasiemeester en sy wandel op die perron so bekyk.

Ons moet soms ook minder praat, ons oë oopmaak en raaksien waar God wil hê ons ander mense met hul treine moet help. Laat ons goeie stasiemeesters wees en mense met hul treine help. Laat ons sommige op ons treine laai en sommer net vir hulle goed wees. God sal vir seker in Sy skik wees met ons …

Teks
Hebreërs 13:9-16

Om oor na te dink
Hoe lyk jou perron?
Gly die treine anders daar weg?
Hou God van jou dade?

Gebed
Vader, ek besef dat ek ook die opdrag het om goed te doen aan ander. Help my om my oë oop te maak. Help my om die plekkies raak te sien waar ek moet goeddoen en help my om dit dan te doen. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek