God se Woord in vandag se woorde

Met die grote God aan my sy …


(Baie geluk aan Siya en die boys! Dankie dat julle help om ons land se mense nader aan mekaar te kry!)

In America’s Got Talent 2018 stap ’n uiters skaam 13-jarige Courtney Hadwin op die verhoog. Haar stem bewe. Sy is erg gespanne. Toe die beoordelaars haar vra wat haar gunsteling musiekgenre is, antwoord sy giggelend: “Ek weet nie.”

Ek wil eintlik nie verder kyk nie, want ek kan dit nie aanskou as iemand so op ’n verhoog met ’n klomp mense hulle naam met ’n plank slaan nie. Dit lyk vir my of Courtney ernstig hiervoor gaan kwalifiseer.

Tog hou ek haar met een oog dop. Met die eerste nood wat sy sing, spring my ander oog oop. Ek kan nie glo wat ek sien en hoor nie. Sy sing briljant! Die klein meisietjie het ’n stem wat skrik vir niks.

Howie Mandel, een van die beoordelaars, was gaande en het veral aanklank gevind by die liedjie wat sy van Janice Joplin (’n sangeres uit die sestigerjare) gesing het. In ’n paar sinne vertel hy dat Columbia Records se president, Clive Davis, vir Janice op ’n verhoog by Menterey musiekfees raakgesien het en net daar vir haar ’n kontrak aangebied het.

Howie sê toe: “Ek is nie Clive Davis nie. Ek kan nie vir jou ’n platekontrak gee nie. Maar wat ek wel kan doen, is om die golden buzzer te druk.” (Dan gaan sy direk deur na die konsert-optredes.)

Hierdie dertienjarige meisietjie was stomgeslaan. Haar pa het op die verhoog gestorm en haar opgetel. Trane het oor hulle wange geloop. Oor myne ook. Elkeen van die tien kere wat ek dit gekyk het …

Courtney se lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie.

Sy was ’n gewone meisie en sou seker so gebly het as Howie nie vir haar na ’n volgende vlak geneem het nie.

Op ’n manier is dit wat God met Jesus ook doen. Jesus het gesterf en neergedaal na die doderyk. Daar was nie meer ’n teken van lewe in Hom nie.

8… Hy was dood en God het Hom weer lewendig gemaak.

Die eenvoudige verhaal van Howie en Courtney laat my bietjie meer verstaan van wat God gedoen het. Sonder God sou Jesus nie kon opstaan nie. Jesus sou dood gebly het.

Dit vertel ’n storie van ons almagtige God en hoeveel krag Hy het. Die dood waaroor ons mense geen beheer het nie, kan God beheer deur eenvoudig net weer lewe in Jesus te blaas. Ons God is groot en dis juis hierdie grote God wat my en jou só liefhet.

Dis wonderlik om te besef dat God aan die een kant só groot en só almagtig is, maar aan die anderkant loop Hy oor van liefde vir sondaars. Daarom kan ons die lewe ingaan en leef soos mense wat reeds oorwinnaars is. Ons kan vol vreugde en vrede leef. Ons hoef nie bang te wees vir enige bal wat die bose na ons gooi nie, want ons God is groter!

8Moet nooit van Jesus Christus vergeet nie. En moet nooit vergeet wat God gedoen het nie. Hulle stap saam met ons deur die lewe. Kom ons hou aan om Hulle te loof en te prys, want dis juis deur die lofprysing wat ons anders word en kans sien om die lewe vierkantig in die oë te kyk.

Teks
2 Tim 2:8-13

Om oor na te dink
Hoe groot is jou prentjie van God?
Loof jy God genoeg?
Stap jy dapper die wêreld binne omdat jy jou God ken?

Gebed
Jesus, ek wil nooit vergeet dat U dood was en weer lewend geword het deur die krag van ons Hemelse Vader nie. Deur U krag kan ek ook ’n lewe van oorwinning leef vol seëninge van U. Dankie, dankie, dankie! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek