God se Woord in vandag se woorde

Aanbod van ’n leeftyd


As ek van ’n goeie aanbod hoor, gaan ek na al my WhatsApp-groepies en laat vir almal weet. So ’n tydjie terug hoor ek van goeie, ordentlike, Namibiese harde braaihout. Ek moet bieg, ek dink nie daar is beter hout vir braaikole as dit nie.

Ek versprei die woord en vinnig-vinnig is die eerste vrag vol. Ek word later genoodsaak om ’n tweede vrag te bestel. Sonder dat ek dit weet, is die tweede vrag se sakprys hoër en ek moet ’n paar ekstra rande uit my eie sak haal om die verskil op te maak.

Maar selfs hierdie klippie in die pad keer my nie om ’n goeie winskopie met my vriende te deel nie. Ek het iets binne my wat wil hê dat ander mense ook moet deel in die goeie wat ek in die hande kan kry.

Net so kon God Homself nie keer om so veel as moontlik mense by Hom te kry nie: 10… God wil ook hê dat baie mense hemel toe moet gaan. Dit is God se plan. Hy wil, soos enige ma en pa, Homself omring met Sy kinders. As hulle nie by Hom is nie, pyn Sy hart.

Met die totale toesluit van ons land, as gevolg van die Coronavirus, was my twee dogters by hulle vriende. Een was in Centurion en die ander een op ’n plaas in die Vrystaat. Die heeltyd het dit gevoel of ek iets mis. Eintlik nog meer. Dit het gevoel of ’n stuk van my soek is.

Ek wou die heeltyd planne maak om hulle hier te kry. Maar my hande was afgekap. Volgens wet kon niemand vir 21 dae van punt A na punt B beweeg nie.

God het ook seker op ’n manier so gevoel. Al Sy kinders was nie by Hom nie en nog minder was op pad. Die meeste was op pad om die hemel te mis. God het seker ook gevoel dat Sy hande afgekap was.

Gelukkig is Hy God en kon Hy dit alles omdraai. Hy kon ’n plan maak, sodat al die mense op aarde ’n kans het om na die hemel te gaan. Dit was egter ’n baie duur plan. ’n Plan wat Jesus se lewe gekos het.

Maar gelukkig het die plan gewerk. Jesus het die mag van die sonde op die mens gebreek. God en Jesus is baie sterker as die duiwel en hy is daar op Golgota oorwin. Ja, hy probeer nog sy bes om met die mens se kop te smokkel, maar ons moet weet hy is ’n bobaas bedrieër en ook ’n verloorder. Hy het die grootste stryd verloor. Jesus het as oorwinnaar uitgestap.

En die prys? Die prys (en watter groot prys is dit nie – Jesus se lewe!) is reeds betaal. Die deure van die hemel staan wawyd oop. Die mens kan nou vrylik na die hemel toe gaan. Die skarniere is vasgeroes en kan nooit weer toewaai nie. Die lewe wat nooit ophou nie, wag vir elkeen wat in Hom glo.

Dis wat jy moet doen. In Jesus as jou Verlosser glo, jou sondes bely en in daardie geloof leef. God hou by Sy beloftes. Hy sal die skuld van jou sondes op Hom neem.

Sjoe! Is dit nie ’n klomp genade nie! Hoe kan ons stilbly hieroor? Hoe kan ons dit nie met ons vriende deel nie? Komaan! Moenie dit vir jouself hou nie. Vertel dit aan elkeen met wie jy in aanraking kom.

Dit kan hulle lewe red …

Teks
Hebreërs 2:10-13

Om oor na te dink
Hoe kan jy die boodskap daar buite kry?
Aan wie moet jy dit bring?
Aan wie nie?

Gebed
Vader, so dankie vir die wonderlike reddingsplan! Dankie dat ons hieraan kan deel hê en dat die hemel vir ons oopstaan. Ek weet ek moet die boodskap daar buite uitkry. Gee my krag en maak die deure vir my oop om dit wel te doen. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek