God se Woord in vandag se woorde

Achilleshiel


Filippense 3:4-11

Ek sit en skryf hier waar ons in die rustige Knysnabos vakansie hou. Dis vroegdag op 1 Januarie en die kamp is stil. Almal rus na die vorige nag se vieringe. Dit het gisteraand gereën en alles ruik vars. Ek is opgewonde om die nuwe jaar te begin en wonder watter uitdagings daar in die pad voorlê.

Maar sommerso van vroeg af pla iets my. Albei my Achilleshiele pyn vir dood. Sien, dis van al die gespeel in die branders en agter die Waboba bal aanhardloop dat ek nou begin pyne kry op plekke waar ek nie eers geweet het dat ek plekke het nie. Dis vrek seer, die Achilleshiel. Ek stap soos ’n ou man met skarniere wat nie meer skarnier nie en skuifel van die een plek na die ander.

Ek dink aan die spreekwoord dat elke mens van tyd tot tyd ’n Achilleshiel het. Nee, ek verwys nie na die sening wat hier agter by jou hak sit nie. Ek verwys na die spreekwoord wat sê dat ons almal maar ’n swak plek in ons mondering het. Daar is altyd iets wat ons as kinders van God se spoed breek en wat keer dat ons voluit vir Hom leef. Sommige se spoed word gebreek deur pornografie, sommige deur swak tydsbestuur, ander weer deur geld of drank. Êrens het ons almal ’n Achilleshiel wat ons trip en ons spoed breek in ons verhouding met God.

Ek het ook ’n paar Achilleshiele in my geestelike lewe. Wanneer ek bewus word van ’n swak plek in my mondering, werk ek hard daaraan. Soms kry ek selfs medegelowiges om my te help om die swak plek uit my lewe te wurg, maar dikwels, as ek my weer kom kry, lê ek op die grond. Dis asof die vyand net op die een plek in my lewe konsentreer en my tart en uitdaag, uitlok en daarop hamer sodat ek net om die volgende draai weer neerploeg.

Ai!

Waar sal die antwoord dan wees?

Vir Paulus is dit eenvoudig, want hy het dit aan sy bas gevoel.

8… Vandat my pad Jesus s’n gekruis het, het die hele manier waarop ek na dinge kyk, verander. 10Een ding wil ek nou regtig graag hê, en dit is om Jesus te ken.

Wanneer ’n mens vir Jesus ontmoet, wanneer Hy deel word van jou lewe, verander alles. ’n Mens sien nie net dinge anders nie, maar jy dink anders, jy doen anders, jy leef anders. Dinge wat jou voorheen in die grond gedruk het, is nie meer sulke groot issues nie. Die swak plekke word nou stadig maar seker uit die weg geruim. Dis wat Jesus in ’n mens se lewe kom doen.

Vir my Achilleshiel wat so vrek seer is dat ek nie kan loop nie, is tyd nodig. Ek voel en ervaar met elke stap dat daar nie ’n vinnige kuur is nie. Dit neem tyd in beslag en ek moet strek en rustig wees.

Net so gaan die Achilleshiel in ons geestelike lewe nie eensklaps net weg nie. Nee, dis ’n proses en neem tyd. Maar omdat ons pad met Jesus s’n gekruis het, kan ons begin strek. Kan ons oefen om ontslae te raak van die swak plekke in ons lewe.

Kom ons vat hande en gee Jesus kans om in ons lewe te werk. Kom ons sit energie in, sodat ons spoed nie deur ons Achilleshiel gebreek word nie. Mag ons in volle vaart die wêreld ingaan en ’n verskil maak orals waar ons gaan!

Om oor na te dink

Wat is jou Achilleshiel?

Hoe kan jy daarvan ontslae raak?

Is Jesus ’n krag in jou lewe?

Gebed

Ai, Here, soveel keer het ek al gepraat oor my Achilleshiel. Ek struikel en val so gereeld. Ek besef dat ek dit nie op my eie sal maak nie. Ek het U nodig, Jesus! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek