Advertensie speel
(Net so onthoutjie: As jy nog nie die navorsing ingevul het, kliek asb hier om dit in te vul. Ons waardeer dit opreg! )
Met die 2015-rugbywêreldbeker in Engeland verloor ons die eerste wedstryd teen Japan. Dit was ’n groot skok vir alle Suid-Afrikaners. Heineke en Jean het voor die tyd so mooi belowe dat hulle ons naam hoog sal hou en ons sal trots maak. Wel, ek moet bieg – ek het my kop in skaamte laat sak.
Die volgende wedstryd het die Bokke darem weer reggemaak en ’n mooi wedstryd gespeel en vêr gewen. Die Suid-Afrikaners se borste was weer wyd uitgestoot. Maar teen die einde van die wedstryd was daar nog ’n man by die scrum. ’n Suid-Afrikaner met ’n Boktrui wat ook wou saamspeel. Gou têkkel die spelers hom en hy word van die veld gelei. Die man van Boksburg sleep toe op sy eie ons Suid-Afrikaners se naam deur die modder.
Dit maak nou nie saak of die man van Boksburg al ses jaar lank in Engeland woon nie, mense sien hom as ’n Suid-Afrikaner en daarom word alle Suid-Afrikaners oor dieselfde kam geskeer. Elke mens is eintlik ’n ambassadeur van sy land. Jou optrede gee mense ’n kykie in jou land se mense. As jy dus vriendelik is met mense van ’n ander land, dink hulle Suid-Afrika is ’n land vol vriendelike mense. Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar.
Net so is dit ook met ons as Christene. Ons is ambassadeurs vir God. Ons moet weet dat mense ons baie fyn dophou en as ons ’n voet verkeerd sit, word dit die volgende oggend in die koerante uitgeblaker of agter die hande van mense wat dit saggies van die een na die ander oordra.
Daarom die reguit waarskuwing: 27Gedra julle altyd so dat julle ’n advertensie vir Christus is. Daarmee moet julle regtig moeite doen. Ek wil net goeie dinge van julle hoor…
Hierdie vertaling maak dit mooi verstaanbaar. Ons weet presies wat ’n advertensie is, want ons word daagliks daarmee gekonfronteer. Hulle sê ons land het van die beste advertensies in die wêreld, maar ai, dit frustreer my as ek net lekker na ’n program kyk en dit word deur ’n advertensie onderbreek. Maar ek verstaan dit is hoe die ouens hulle geld verdien.
Net so is ons advertensies wat rondloop vir God. Ons is sy kinders en die manier hoe ons dinge doen, gaan bepaal of mense na God aangetrek word en of hulle weggestoot word. Sjoe, dis eintlik ’n groot verantwoordelikheid. Ja, die Bokke het ’n groot verantwoordelikheid om ons land se naam hoog te hou. As hulle hulle goed gedra en ’n mooi voorbeeld stel, is hulle goeie advertensies vir Suid-Afrika en sal mense graag met Suid-Afrikaners geïdentifiseer wil word. Maar as jy jou naam met ’n plank slaan soos die ou wat tydens die wedstryd op die veld gehol het, boo almal en dit laat ’n slegte smaak in die mond.
Ok, nou kom ons by onsself en ons word gekonfronteer met ons eie gedrag. Hoe adverteer jou gedrag vir God? Die vraag is eenvoudig: Stoot jou gedrag mense weg of trek dit mense na Jesus toe?
Baie van ons probeer ons bes om reg op te tree. Baie van ons probeer soos Jesus leef en ’n goeie advertensie vir God wees, maar ai, soms is daar net oomblikke wanneer ons dit nie maak nie. Soms lyk die advertensie nie so goed nie. Ons moet besef dat daar tye gaan wees wanneer ons verkeerd gaan optree. Ons moet sensitief wees en vir die Heilige Gees vra om ons hand te neem om ook in moeilike tye ’n goeie advertensie te wees. Ja, dis eintlik maklik om in die tye wanneer alles reg verloop ’n goeie advertensie te wees, maar wanneer die dinges die fan strike, dis dan wanneer ons ekstra hard moet konsentreer om ’n goeie advertensie te wees.
Om oor na te dink
Weet jy dat jy 24/7 ’n advertensie vir God is?
Hoe lyk jou advertensie?
Trek dit mense na God?
Gebed
Liewe Vader, U rus ons toe met alles wat nodig is om ’n goeie advertensie vir U te wees. Help ons om nie U Naam deur die modder te sleep nie. Amen.