Agtergrond
Ek het 40 jaar gesukkel om ’n manier te kry om iets uit die Woord van God te kon kry.
Sommige mense het raad probeer gee deur spesiale studie materiaal voor te stel. Ek het dit gelees. Dit gaan wel by die oë in, maar êrens binne die grys lobbe raak dit verlore. Ek dink die waarheid en wyshede ontsnap hier by die ore uit of is dit dalk daar waar my hare aan te uitval is? Dan sê iemand anders weer jy moet eers stil sit en wag dat jy op reis geneem word, maar as ek my weer kom kry dan is daar voue op my gesig soos ek op my arms aan die slaap geraak het. Alles het ek probeer, maar niks kon my elke oggend met verwagting laat opstaan nie. Die snoesige warm bed was darem net te lekker.
Ja, die bed is nog lekker, maar ek het ’n manier gekry wat dit vir my lekker maak om die Bybel te lees, te verstaan wat ek lees en my te beweeg om anders op te tree! Nou verstaan ek so ’n bietjie meer van God se wil vir my en kan ek my manier van optree minder wêrelds maak en meer optree soos wat Jesus dit sou gedoen het. Hoe? Om te keer dat dit wat ek lees êrens deur ’n gat ontsnap, het ek begin om wat ek lees, hoor en verstaan neer te skryf of soos ons vandag doen: neer te tik. En ewe skielik slaan die goed vas en gebeur iets in my. Op ’n manier hoor ek God praat. Nou moet ek net eers sê: Ek het nog nooit God in ’n stem hoor praat nie. Iets pluk eerder my aandag of iets bly maal in my kop soos ’n liedjie wat ek êrens gehoor het en vervlaks nie kan ophou neurie nie. Ek het net iets raak gelees wat my nie wil los nie. Dalk pla dit of dalk praat iemand anders later weer oor ’n soortgelyke ding en ewe skielik maak dit net sin en ek weet God wil vir my iets sê.
En so het ek begin om elke oggend my bestudering van die Bybel neer te skryf.
’n Pêl van my, Pieter, vertel dat hy ook so sukkel en net daar en dan besluit ek en die Here, wat natuurlik ook ’n vinger in die pastei het, om die neergeskryfde goed reg te trek en aan hom te stuur. Nou is dit ’n hulpmiddel om Bybelstudie te doen. Let wel: dis nie ’n dagstukkie boek nie. Dagstukkie boeke het hul rol te speel op baie plekke, maar baie maal, so in ons gejaagde lewe van vandag, mis ons dit om regtig by God se wil vir ons lewe uit te kom. So eet ons die heeltyd net babakos en groei ons nooit sodat God ons werklik kan gebruik om ’n verskil te maak in die wêreld nie. As jy ernstig is met God, as jy sê jy’s ’n Christen, moet jy tyd saam met God spandeer. Hierdie e-byb (elektroniese Bybelstudie) wil vir Pieter en, as jy wil, vir jou ook help, wil jou begelei om werklik by God se goeters vir jou lewe uit te kom. En as dit nie vir jou werk nie, is dit ook fine, alles werk nie vir almal nie, maar moenie ophou soek na die regte manier vir jou om by God uit te kom nie.
Ek skrik toe een oggend wakker en dit is so duidelik soos daglig: Noem die e-byb Kruispad/”Crossroads”. Met ’n dubbelsinnig betekenis:
Elke dag van ons lewe kom ons by ’n kruispad, ’n vier rigting stop waar ons keuses moet maak; gaan ek links, regs of reguit aan? Sommige is nie voor die hand liggende keuses nie. Sommiges is so voor die hand liggend vir ons dat ons nie eers twee keer dink om die keuse uit te voer nie en doen dit sommer so in die “stride”. Maar is dit die regte keuse?
Aan die ander kant is ons tog ook besig met die Kruis pad. Die pad van die kruis van Jesus Christus; probeer ons om die pad soos Jesus te loop.
Kruispad moet ‘n padkaart, ‘n roete gewer, ‘n rigtingbordjie vir die kruispaaie in ons lewe wees.
Kruispad wil jou help om in jou alledaagse lewe die regte keuses te maak.
Hoe werk die e-byb?
Elke Maandag, Woensdag en Vrydag sal ‘n stuk aangestuur word wat jy op jou tyd kan deurwerk. Probeer om ook die teksgedeelte ook te lees. Daar is op die epos ‘n link na die teksgedeelte. Hopelik sal Kruispad jou help om dié gedeelte deel te maak van jou.
Ek hoop en bid dat hierdie e-byb jou nader aan God sal bring. Mag jy Sy liefde ervaar, mag jy, wanneer jy moet kap aan dit wat nie soos ’n Christen lyk nie en seer kry, Sy arms om jou ervaar. Mag God ander mense seën omdat hulle vir jou ken.
Gerjo Ben