God se Woord in vandag se woorde

Alles in liefde


Ons elkeen het ’n roeping. Ons moenie verskonings uitdink nie. Nee, ons moet vir ander ’n voorbeeld wees deur die manier waarop ons praat en ook deur die manier waarop ons dinge doen. Dis redelik vanselfsprekend. Maar Paulus help vir Timoteus en vir ons nog ’n stukkie vêrder: ons moet liefde uitdra. 12… wees jy vir die gelowiges ‘n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde …

Hoe weet ons of mense vir ons lief is? Hoe weet jy of jou ma jou liefhet? Sy sê dit, maar méér nog, sy doen dit. Ek sien dit by my vrou. Sy hou aan met gee en gee vir ons kinders. Haar liefde, haar tyd, haar Kauai smoothies wat sy in die gym verdien het, opofferings, noem maar op. Soms dink ek dis onnodig en te veel, maar dan sê sy dat sy haarself nie kan keer nie.

Dís nou ware liefde. Liefde wat nie kyk na wat die ander een doen of nié doen nie. Liefde verwag nie iets terug nie. Inteendeel, selfs al is die ander een lelik en al bal die ander se vuiste, dring die liefde jou om steeds goed te doen.

Liefde kan nie deur grense vasgedruk word nie. Liefde kan nie deur reëls en regulasies binne gehou word nie. Liefde maak nie altyd sin nie. Liefde loop op plekke waar daar nie eintlik plekke is nie. Liefde vra nie vrae nie. Liefde maak nie eers seker nie. Liefde loop net.

Dis nogal mooi gesê, né.

Maar dis nie so maklik gedoen nie. Kom ons wees nou maar eerlik. As ek nie my sin kry nie, is liefde gee en doen baie laag op my lys. Nee, dit is nie eers op my lys nie. Wanneer ek seerkry, wil ek eerder terugkry as om te gee. As ek gee, wil ek ontvang, anders gee ek nie. Dis hoe ek gerat is.

’n Mens kan slegs op die pad van herstel stap as jy weet waar jou foute lê. Een van die foute wat met die sondeval ingesluip het, was dat ons net na binne kyk, na ons eie behoeftes en dit wat ek uit die lewe kan kry. Ons oë kyk na onsself en nie na die ander nie. Dis die flaw wat die sondeval in ons lewens kom los het.

Ons moet dit besef en bewustelik hieraan begin werk. Ons almal het die opdrag om liefde te gaan uitleef en tog is ons anders gerat. Daarom moet ons elke dag ons eie ek bely. Ons moet dit keer op keer voor God gaan neerlê en Sy Gees vra om ons te help om hierdie flaw te oorkom. Ons moet vir God vra om ons te help om ons oë weg te draai van onsself en om eerder die nood van ander raak te sien.

Soos ’n ma se oë net die behoefte van haar kinders raaksien en alles vir hulle wil gee, moet ons ook gee. Soos ’n ma niks terug verwag nie, moet ons ook nie gee om te ontvang nie. En soos ’n ma moet ons aanhou om liefde te saai, al maak die ontvangers ons seer of al stoot hulle ons weg.

Ware liefde gee, ten spyte van seerkry. Kyk maar vir Jesus aan die kruis.

Liefde moet die fondasie van ons doen en late word. Liefde moet die vertrekpunt wees. Liefde moet die grond onder ons voete wees. Liefde moet die kompas wees wat ons op die regte pad laat loop. Liefde moet die petrol wees wat ons die energie gee om elke dag deur die wêreld te loop.

Liefde moet ons alles wees.

En soos ek hier sit, weet ek dat ek ook hiermee sukkel. Ek sukkel om net te gee en niks terug te kry nie. Ek kan nie liefde gee as iemand my seermaak nie. Ek sukkel.

Daarom, al wat ek nou kan sê is: So help my, God!

Teks

1 Timoteus 4:6-16

Dink bietjie hieroor

Waar sukkel jy met liefde?
Waar moet jy liefde gaan uitleef?
Hoe moet jy dit gaan doen?

Gebed

Vader, U is vir ons so ’n goeie voorbeeld van hoe om onvoorwaardelik lief te hê. En ek vermoed ons is soms ’n voorbeeld van die teenoorgestelde. Tog weet ek met U hulp kan ons nader aan U voorbeeld kom. Ek wil meer en meer almal om my onvoorwaardelik liefhê.  Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek