Alles wat jy nodig het
Ons het nie die vaardighede om alleen deur die wêreld te stap nie. Kyk maar net na ons track record. Dit lyk nie goed nie. Hoeveel verkeerde keuses het ons nie al gemaak nie? Hoeveel stukkende verhoudings lê daar nie gesaai nie? Hoeveel lyke lê nie al langs die pad nie?
Die meeste van die foute het ons op ons eie gemaak. Ons het gedink ons kon dit op ons eie doen, maar ai, die gevolge wys dat ons dit nie regkry nie. Ons het duidelik versterkings nodig. Iemand wat ons hand kan neem en ons die pad wys. Christus is die antwoord:
10Omdat julle in ’n hegte verhouding met Hom staan, kry julle weer by Hom alles wat julle op geestelike gebied nodig mag hê. Hy sorg dat julle niks kortkom nie. Hy is mos die Een wat mag uitoefen oor alle magte, ook oor die geestelike magte.
Daar is ’n oorlog aan die gang. Daar is magte, bose magte wat ons van die pad af wil lok op so ’n manier dat ons nie kan sien waarheen ons op pad is nie. Vir ons lyk dit doodonskuldig, maar verder af in die pad lê daar seer en gebroke harte. Op ons eie sien ons nie die gevolge van ons keuses nie. Daarom die nood aan versterkings. En wie beter is daar as die Een wat alles ken en presies weet wat later in die pad vir ons lê en wag?
Christus is in beheer. Hy weet van alles. Hy weet selfs van die hel. Hy weet waartoe die duiwel en sy trawante in staat is. Hy weet dat ons elke dag sagte teikens is en maklik in die vuil hande van die vyand kan val. En sien ’n mens nie die lyke van verhoudings wat aan skerwe is hier rondom ons nie? Ons sien orals plekke waar die vyand se wenners vlaggies ingekap staan en wapper in die wind.
Ek vermoed dis die kere toe mense nie ’n verhouding met Christus gehad het nie. Christus was nooit deel van hulle stryd nie. Mense het gedink hulle kan die lewe op hulle eie leef, maar duidelik was hulle kragte te min.
Die geheim hier is eintlik baie eenvoudig en ons almal weet dit: ’n hegte verhouding met Christus. Ai, ek streef so na ’n meer intieme verhouding met God, want ek weet ek sal dan nie soveel verkeerde keuses maak nie. Inteendeel, lui die belofte klokkie oor en oor in my oor: 10… kry julle weer by Hom alles wat julle op geestelike gebied nodig mag hê. Hy sorg dat julle niks kortkom nie.
Wow!
Soms maak ons dit vir onsself moeilik om die eenvoudige waarhede te snap. Ons weet dit. Ons weet dat ons meer tyd vir Christus in ons lewe moet gee. Ons weet dat ons moet sorg dat ons verhouding met Christus deurentyd deel van ons lewe moet wees, want dit is juis in die intieme verhouding met Hom waar ons leiding sal kry vir die dag sodat ons die regte besluite by die kruispaaie van die lewe kan neem.
Ek wil jou uitdaag om Christus deel van jou dag te maak. Die gevolge sal soveel anders wees en Hy sal sorg dat jy niks kortkom nie.
Teks
Om oor na te dink
Hoe lyk jou besluite?
Hoeveel tyd gee jy vir Christus in jou besige dag?
Hoe kan jy dit meer maak?
Gebed
Dankie, Christus, vir die belofte dat U alles vir ons sal gee wat ons nodig het. Ek glo dit. Ek besef egter dat ek U moet deel maak van my hele dag. Help my om ’n plan op te trek. Help my om dit deur te voer. Eintlik sien ek soveel uit na ’n meer intieme verhouding met U. Amen.