God se Woord in vandag se woorde

Almal is base. Hoe nou gemaak?


Efesiërs  6:1-9

Paulus het mooi vir die werknemers vertel hoe hulle as Christene hulle beste vir hulle werkgewers moet gee. Volgende in die tou is die base, of die mense wat vir ander in diens neem. Ek omskryf die term base, sodat jy kan besef dat jy ook ’n baas is. Sodra jy iemand betaal vir ’n diens, dan werk daardie persoon vir jou.

Neem nou maar bv. ’n kelner. Hy bedien jou kos vir jou en as hy goed is, gaan jy hom met ’n 10% kommissie beloon. Jy’s eintlik sy baas. Die mense wat in en om jou huis werk, die elektrisiën of loodgieter of handyman of oom van die tuindienste is vir ’n tydjie in jou diens. Selfs die mense wat na jou kinders kyk werk op ’n manier vir jou, want jy betaal vir hulle dienste.

Die groot vraag is hoe ervaar hulle jou as baas?

Vinnig wys ons ons vingers as die mense vir wie ons werk, onbeskof is of as hulle vir ons die minimum betaal en bloed uit ’n klip getap wil hê. Dalk moet ons eendag gaan stilstaan en vir die mense vir wie ons geld in die hand sit, vra hoe hulle ons as werkgewer ervaar.

9Vir die base wil ek vra om die mense wat onder hulle werk net so te behandel.

“Net so te behandel” verwys na die vorige paar verse waar die werkers gevra is om so te werk asof hulle vir God werk. Hulle moet so werk asof God hulle baas is. Met dieselfde mentaliteit moet ons almal mense behandel wat vir ons ’n werkie verrig. Eintlik moet ons die mense wat ons bedien, dien.

Ons moet soos Jesus wees en vir hulle in alles meer gee. Meer as net die loon wat hulle verdien. Weet jy hoe goed doen dit ’n mens as iemand jou menswaardig behandel? Net dit. Behandel iemand so dat jy waarde aan hom of haar as mens toevoeg – dat dit vir hulle lekker is om die diens te lewer en graag weer vir jou wil werk, want hulle ontvang soveel meer as wat hulle verdien.

Dan hoef ’n mens nie te skree en skel om mense aan die werk te kry nie. Dan hoef daar nie van afbrekende taktiek gebruik gemaak word om jou pond vleis uit mense te kry nie. 9… Moenie hulle die hele tyd met slegte dinge dreig nie. Onthou dat julle en die mense wat onder julle werk dieselfde Here in die hemel het. Hy trek niemand voor nie, maar behandel almal eenders.

Op universiteit was dit altyd vir my so snaaks dat dosente wat nie goed klas gegee het mense met roll call moes dwing om in die klas te wees. Dosente wie se klasse goed aangebied is, se klasse was vol. Hulle hoef nie studente af te dreig met roll call om klas by te woon nie.

Net so moet sommige base die heeltyd op ander check, terwyl ander se werknemers sommer werk huis toe neem…

Wat verwag jy van jou baas? Sekerlik dat hy jou ordentlik sal vergoed vir die werk wat jy lewer. Maar meer as dit. Ons verwag dat ons menslik behandel sal word en nie minderwaardig sal voel nie. Ons wil hê dat die omstandighede waarin ons werk bevorderlik vir ons gemoed sal wees en dat ons met ’n lekker gevoel daar sal wegstap.

’n Vriend van my vra my om hom te help met een van sy werknemers. Sy sukkel en haar spanning loop hoog. Hy is bekommerd oor haar en wonder wat hy kan doen om haar te help. Hy wonder hoe dit by haar huis gaan en of die dinge daar reg loop.

Nog voor ek iets vir hom kan sê oor sy werknemer, stop ek eers alles en sê vir hom hoe ’n groot voorbeeld hy vir my is oor hoe ’n werkgewer met sy mense moet werk. Op ’n manier sien ek ’n stuk van Jesus deur sy manier van doen raak.

Mag ons presies dieselfde vir die mense wat vir ons diens lewer ook laat waar word. Mag ons deur die manier wat ons ons werknemers hanteer een groot stuk getuienis van ons God wees. Mag mense graag vir en saam met ons wil werk, omdat ons Jesus lewe.

Om oor na te dink

Wat verwag jy van jou baas?

Gee jy dieselfde vir die wat vir jou werk?

Sien ander vir Jesus deur jou raak?

Gebed

Vader, ek besef dat ek orals ’n voorbeeld moet wees van hoe ’n volgeling van U leef. Ek weet ook dat ek dit nie altyd regkry nie. Help my sodat ander met wie ek elke dag in aanraking kom vir U sal ervaar deur my manier van leef. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?