God se Woord in vandag se woorde

In ander se voetspore


1Onthou dit altyd: toe julle Christene geword het, het julle saam met Christus ’n nuwe lewe gekry. Tree asseblief nou op soos mense wat saam en vir die Here leef.

Dis nogal ’n mondvol.

Ek het ’n ongelooflike pa gehad wat ’n groot verskil in God se wêreld gemaak het. Hy het diep spore agtergelaat. Só groot dat dit vir my voel ek kan eenvoudig net nie daarby uitkom nie. Die opdrag van Paulus is nóg groter. Ek en jy moet in die voetspore van nóg ’n groter Man stap. Ons moet in Jesus se voetspore trap.

Ek kry ’n prentjie in my kop van ’n dogtertjie wat probeer om in haar pa se voetspore te stap. Met al haar krag span sy haarself in om te spring van die een voetspoor van haar pa na die ander. Sy kry een reg, maar met die volgende een trap sy vinnig tussen die twee, want dis eintlik net te vêr.

Ek het al vertel van die afgetrede hoof en sy vrou wat in ’n kusdorp nie anders kan as om na die minderbevoorregte kinders uit te reik nie. Hy sê:

Ons het vir so 500 kinders bedien, speletjies gespeel en iets te ete en te drinke gegee.

Nadat ek met die gemeente gepraat het, het ons meer as R8 000 ontvang! 

Toe ek uitloop, keer twee dames my voor, die een gee 200 broodjies, die ander gee 120 worsbroodjies.

’n Tannie van 84 verjaar: sy nooi mense na haar partytjie, maar hulle moenie presente gee nie, maar geld wat sy sal verdubbel en ons kry R2 000!” “Hierdie R1 000 moet jy vat en vir die kinders tjoklits koop!” Ons het dit gedoen.

Die minister van welsyn hanteer die vervoer van die blaasorkes van Riversdal, asook van Livingball se twee persone vanaf George na Stilbaai asook nog 500 worsbroodjies!

Ons vertrek 9.30 met ’n bus na ouma Lenie se huis in Melkhoutfontein. Loop dan deur die dorp met die blaasorkes en die vlotte na die rugbyveld waar elkeen ’n worsbroodjie kry. 

Vir twee ure word hulle bedien met God se Woord, waarna elkeen weer ’n worsrolletjie kry en ook lekkers, ’n ysie en ’n koeldrank.

’n Eenvoudige storie van iemand wat in Jesus se voetspore stap, want dis presies wat Jesus sou doen. Hy sou die kinders met God se Woord bedien. Hy sou saam met hulle bal geskop het en Hy sou eers sorg dat hulle magies vol is voordat Hy hulle huistoe stuur.

Hier is vir ons elkeen ’n opdrag: Jou dade moet lyk soos ’n kind van God s’n. As die mense nie vir God in jou dade kan raaksien nie, as mense nie vir God deur jou dade aan hulle lyf ervaar nie, is daar êrens iets groots fout. Wanneer Jesus in ons leef, word alles nuut gemaak. Die manier hoe ons praat, die manier hoe ons optree, die manier hoe ons deur die lewe stap word splinternuut. Die groot vraag is of dit waar is van jou lewe? Stap jy gemaklik in Jesus se voetspore?

Teks

Kolossense 3:1-4

Om oor na te dink

Hoe lyk jou voetspore?

Sien mense Jesus in jou lewe raak?

Waar moet jy anders leef?

Gebed

Vader, hoe diep is U voetspore hier op aarde! Ek is eerlik as ek sê dat ek sukkel om daarby te kom. Soveel keer gee ek ’n tree of twee tussen U spore. Ek wil nuut wees. Ek wil U wese daar buite gaan uitleef. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek