God se Woord in vandag se woorde

Anders glo is ook fine


Filippense 3:1-3

Weet jy wat irriteer my grensloos? As ander mense, wat anders as ek glo, my minderwaardig laat voel oor hoe ek glo. So asof ek eintlik die pot mis sit met my manier van glo en dat hulle manier eintlik die regte manier is. Soms betrap ek myself dat ek begin twyfel en voor ek my kom kry, staan ek in die middel van my eie krisis oor hoe ek glo.

Dis nie nodig nie. Eintlik is dit verkeerd van mense wat op ’n anderse manier glo om ander minderwaardig te laat voel.

Ek vermoed dieselfde het in Paulus se dae gebeur. Die mense wat geglo het dat besnydenis nog nodig is, het ander “tot inkeer” probeer bring. Hulle het gesê as jy nie besny is nie, het jy nie ’n plek in God se hemel nie en dat die hel jou voorland sou wees. Dit was presies die teenoorgestelde as Jesus se verlossende, losmakende en bevrydende boodskap. Daarom waarsku Paulus baie hard teen die ouens: 2Wees baie versigtig vir daardie skelms wat maak asof hulle vir Jesus werk, maar eintlik net die teenoorgestelde doen. Kyk hoe sleg tree hulle op. Dit wys mos vir julle wat hulle ware gedaante is. Oppas, al waarin daardie mense belangstel, is om julle te dwing om Joodse gebruike na te kom, soos om julle te laat besny. Moenie julle daaraan steur nie.

Paulus noem die jafels sommer skelms en tereg ook so, want hulle is diewe. Hulle wil die vryheid wat Jesus gebring het by die verlostes kom steel. Hulle wil hulle weer vasbind aan wettisisme. Die las wat Jesus in ons plek gedra het, wil hulle weer terugsit.

Ek wonder of die geestelikes gedink het Jesus se manier van lewe is darem te maklik of dalk te gemaklik. Hulle het dalk gevoel die mense moet darem iets self ook doen om die verlossing te verdien en as jy so bietjie swaar kan kry, is dit soveel te beter. Op die manier kom jy dalk nader aan jou kamer in die hemel.

Maar dis bog, sê Paulus.

Nou hoe gemaak as mense (en dis nie gewoonlik vreemdes nie, maar eerder mense wat baie na aan jou is!) jou probeer oorreed om soos hulle te glo en te doen?

Ek glo ons moenie dink dat dit waarin ons glo en die manier waarop ons dinge doen, onveranderbaar is nie. ’n Vriend van my sê altyd ons moenie verlief raak op ons eie definisies en verstaan van dinge nie. Ons is tog op reis en elke dag leer ons nuwe dinge en kom ons tot nuwe insigte wat dalk heel anders is as wat ons voorheen geglo het. Daarom is dit belangrik dat ons oop sal wees vir nuwe oortuigings. Die Gees werk baie keer deur ander gelowiges om ons op iets te wys waaraan ons dalk bietjie moet timmer of dalk uit ons lewe moet kry.

Maar ons moet alles saam met die Heilige Gees doen. Ons moet 100% seker maak dat ons binne die wil van God leef. Ons moenie agter populariteit aanhol nie. Ons moenie glo en doen omdat almal dit doen nie. Nee, ons moet glo soos ons rustigheid by ons Vader kry.

Ons moet onthou dat die Woord van God juis dit is: God se woorde. Ons is mens, maar net mens. Daar is tye wanneer God vir ons onverstaanbaar is en wanneer mense probeer om uit die onverstaanbare sin te maak, is daar verskillende interpretasies. Hiervoor moet ons vir mekaar ruimte hê, want al is daar verskille, kan daar ook eenheid wees.

Daar word dikwels oor dinge baklei wat niks te doen het met ons saligheid nie. Solank ons glo dat Jesus vir ons sondes gesterf het en dat Hy getrou en regverdig is om te vergewe as ons ons sondes bely, is ons plek in die hemel verseker.

So kan ons te midde van verskille om een tafel sit en die beeld van God uitstraal.

Om oor na te dink

Weet jy waarin jy glo?

Sal jy luister na ander se manier van glo?

Het jy ruimte vir ander om anders te glo?

Gebed

Vader, soms verstaan ons nie dadelik wat in U Woord staan nie. Help ons om geduldig en met begrip na mekaar te luister wanneer ons nog nie op dieselfde bladsy is nie. U Heilige Gees sal ons elkeen lei na die waarheid. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?