God se Woord in vandag se woorde

Anker in God se Woord


Ek leer so op die seiljag nog ’n paar dinge van die anker.

Die een is dat daar plekke is waar ons nie die anker kan gebruik nie. Die ketting waaraan die seiljag se anker vas is, is ongeveer 50 meter lank. Ons leermeester leer ons dat daar plekke is waar ons nie met die jag mag gaan nie, want dit is te diep daar.

As ons dan in die moeilikheid kom, sal die anker se ketting te kort wees en sal die anker nie die bodem haal om ons teen ’n storm te beskerm nie.

Ek besef maar net te goed dat ons nie enige plek in die wêreld kan gaan speel en dink dat ons kennis van God se Woord ons orals sal beskerm nie. Nee, ek wil nie die mag van die kennis van God se Woord aan bande lê of grense om oprig nie. Maar ons moenie dink dat die kennis van God se Woord soos ’n superheld ons orals uit die moeilikheid gaan ruk nie. Daar is eenvoudig plekke in die wêreld waar ons moet wegbly, want die kans vir glip is net te groot.

Moet byvoorbeeld nie seksuele woorde in jou foon se soekenjin intik nie. Die bodem is te vêr vir jou anker. Indien jy nog nie getroud is nie, maak seker waar die lyne is en sorg dat jy en jou maat nie in gevaarlike plekke kom waar julle verby die laaste terugdraaiplekkie kan glip nie. Die bodem raak dan te vêr vir die anker.

Wanneer jy in jou besigheid ’n transaksie maak, doen dit alles bo die tafel, want dis maklik om ’n paar rand te vat, maar net so maklik om ’n nul agteraan te sit. Dis ’n terrein waarvan jy eerder moet wegbly. Só leer God se Woord ons.

En so kan ons onsself bevind op baie verskillende plekke wat reeds te diep is vir die kennis van God se Woord om ons te help om die reguit pad te stap.

Ek leer nog van die seiljag se anker. Hulle sê dat daar altyd 40meter ekstra ketting afgerol moet word as die anker uitgegooi word. Dus beweeg die boot nog vrylik rond. Die brander gooi dit nog steeds heen en weer. Met elke golf wieg ons op en af en die winde druk ons in enige rigting.

God se Woord as anker vat nie die seer en die swaar uit die lewe nie. Omdat ek elke dag God se Woord lees en oorloop van die wysheid, beteken nie dat ek ’n binnebaan gaan kry en die res van my lewe sonder probleme en uitdagings gaan wees nie. Inteendeel.

Wat die anker van die seiljag bring, is gemoedsrus. As die branders so woes op en af gaan en selfs oor ons slaan, kan ons rustig lê, want ons weet die anker sal sy ding doen.

Daarom, 9 die Here se Woord waarin hy self onderrig is, moet die anker van sy lewe wees. Ons moet ons hele lewe in God se Woord vasanker. Die lewe kan maar rof wees met ons. Sy kan maar haar curve balls gooi, want die kennis en wysheid van God se Woord sal ons deurtrek.

God se Woord sal ons hand neem om deur die wêreld te stap en ons wys hoe om dit te doen. Kom ons maak ’n plan om seker te maak dat ons styf aan God se Woord vasgeanker is.

Teks
Tit 1:6-10

Om oor na te dink
Watter areas in jou lewe vra baie wilskrag en moet jy ver van die grense af wegbly?
Glo jy dat God se Woord soos ‘n sterk anker in jou lewe kan wees?
Maak jy meestal op jou eie wysheid of God se wysheid staat wanneer dinge moeilik raak?

Gebed
Vader, help my asseblief om weg te hardloop van versoekings af, maak nie saak wat ander mense van my dink nie. Dankie dat U Woord my die wysheid gee wat ek nodig het om die regte pad te stap. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek