As dinge nie sin maak nie
Dinge maak nie altyd sin nie. Ek was al by baie plekke in my lewe waar ek na die sin van die uitdaging gevra het. Sommige kere het ek met my arms in my sye na die uitdaging opgekyk en moedeloos gevra: “Hoekom nou weer dit? Hoekom ek? Ek verstaan nie hoekom ek nou weer hierdeur moet gaan nie.”.
Veral as die lewe jou druk dat jou oë traan, wanneer die volgende curve ball sommerso onverwags om die draai kom en jou in die middel tref of wanneer dieselfde uitdaging weer en weer kom en alles verwoes.
Dis is sulke tye wanneer alles nie sin maak nie. Dan wonder ons of God bestaan. Dan wonder ons of Hy verstaan. Dan wonder ons of Hy regtig orals saam met ons gaan.
Ek wonder wat het deur Abraham se kop gemaal toe God vir hom sê dat hy vir Isak moet gaan offer. So lank het hy en Sara gewag. So lank het hulle gebid en gesmeek. En toe kom God se belofte dat Abraham se nageslag groter gaan wees as die sand op die strande en die sterre in die hemel.
En nou kry hy die opdrag dat hy Isak moet gaan offer. 19Dit het nie vir Abraham logies geklink nie … Hy het vir seker ook met ’n hoop vraagtekens gesit en met armpies in die sye na Bo gewonder wat aangaan.
Abraham het egter rustigheid gekry, want … hy het God vertrou. So, al het hy nie presies verstaan wat nou aangaan nie, het sy 100% vertroue in God hom deurgetrek.
Kyk net hoe smokkel Abraham met sy eie kop: … Hy het geredeneer dat God Isak weer lewendig sou maak, want Hy kan dit doen. Eintlik kan ’n mens dus sê dat Abraham wel vir Isak doodgemaak het en dat hy sy seun weer uit die dood teruggekry het.
Dis wat vertroue in God doen. Jy raak rustig en al weet jy nie wat presies gaan gebeur nie, weet jy dat God op ’n manier ’n haas uit ’n hoed gaan trek. Al kos dit ’n wonderwerk, sal God laat gebeur wat moet gebeur.
Op die ou end sal almal as wenners uit die lewe se kryt klim.
Ons moet hierdie ene onthou. Of dalk het jy dit juis nou nodig waar daardie uitdaging voel of dit jou wil platdruk. Jy moet soos Abraham net bly vertrou en glo dat God vir jou sal voorsien.
Al kos dit ook ’n wonderwerk om jou uitdaging te laat afblaas, sal God dit so laat gebeur. Kyk maar oor jou lewe. Jy sal orals momente sien waar jy gedink het dis nou die einde en tog het God jou daar uitgered.
Dis God se styl om die planne reg te laat uitwerk. Vertrou jy net en gee nou alles oor in Sy hande.
Teks
Hebreërs 11:8-19
Om oor na te dink
Waar maak dinge nie nou vir jou sin nie?
Vertrou jy God?
Glo jy dat Hy ’n wonderwerk in jou lewe kan doen?
Gebed
Vader, ek glo in U. Ek vertrou U met my hele lewe. Ek glo ook dat U ’n wonderwerk in my lewe kan laat gebeur. Ek het dit nou nodig. Amen.