As iemand klop
Piet vertel:
Ek ag myself altyd beskikbaar vir God en daarom, veral in die laaste 15 jaar van my lewe, het so baie mense aan my deur kom klop vir hulp. As ons bedag is en in voeling met die wil van God leef, besef ons baie vinnig wanneer God wil hê ons moet iets doen. God wil net hê ons moet die saad saai en Hy sal die res doen, want Hy weet meer!
So ses jaar gelede is daar weer ’n klop aan my deur – iets waaraan ek al gewoond geraak het omdat God so baie mense, sonder afspraak (soms tot drie per dag en dit bots nooit!) na my toe gestuur het om net die evangelie te deel en dan ’n toeskouer te wees van die grootste wonder in God se skepping deur ’n weergeboorte te aanskou.
Nou ja, daar was ’n klop aan my deur! Die man wat ek van geen kant ken nie, se Uno’tjie het twee huise verder sonder petrol gaan staan. Geestelik was hy plat. Baie moedeloos en stukkend en sonder werk. Hy was ± 55 jaar oud en baie grys. Hy was hoog gekwalifiseerd: drie grade waarvan een ’n meestersgraad is.
Ek kon nie veel met hom praat nie – hy was nie ontvanklik nie omdat die lewe hom op daardie oomblik nét te veel gedruk het! Dit kon ek duidelik sien, want al waaroor hy kon praat, was die gedigte wat hy skryf. Ek doen toe iets wat ek nooit doen nie: Ek roep my een seun wat op daardie stadium by my gewoon het (hy het met dwelmverslaafdes gewerk en die evangelie nes sy pa gebring waar hy kon!) en ons bid saam vir die man.
Daarna het ons die man weggehelp met ’n uitnodiging dat hy moet terugkom om oor die Here te gesels. Ek was baie teleurgesteld, want ek het gevoel dat ek hom nie regtig gehelp het nie! Ek wou die evangelie met hom deel en hy het nie teruggekom nie. Ek het gevoel ek het êrens ’n fout gemaak!
Toe gaan ± ses jaar verby.
Twee weke gelede lui my voordeurklokkie en hier staan ’n man. Hy vra of ek hom onthou. Ek kan nie en hy sê ek moet, want lank terug het hy ook aan my deur geklop en ek het die deur oopgemaak met baie ongewone woorde wat hy in sy lewe nooit sal vergeet nie! Ek kon steeds nie onthou nie en hy verduidelik verder. Toe begin iets vir my deurskemer en ek sê vir hom: “Jy is die man wat die gedigte skryf!” Hy sê toe: ”Ja, en my bundel is byna klaar en ek sal waarskynlik binne die volgende paar weke begin werk om dit uit te gee.” Hy vertel toe verder dat hy net gekom het om oor iets te getuig.
Oor ’n koppie koffie leer ek toe ’n groot les. Hy vertel toe ek en my seun vir hom gebid het, het daar golwe deur hom gegaan en van daar af het sy hele lewe verander – veral sy uitkyk op die lewe.
Hy het ongeveer drie weke na ons vir hom gebid het, werk gekry en is nog steeds daar – in die onderwys – en hy werk hard om die lewens van sy leerlinge en mede-personeel te verander!
Piet was getrou aan sy opdrag en mense se lewens is verander.
Net soos Paulus snap Piet iets van die verantwoordelikheid: 26Op my skouers rus die verantwoordelikheid om die boodskap van God van begin tot end aan julle te verduidelik. En dis eintlik ons almal se verantwoordelikheid.
Skrifgedeelte
Om oor na te dink
Wat is jou verantwoordelikheid?
Kom jy jou verantwoordelikheid na?
Waar moet jy nog meer doen?
Gebed
Here, ek weet U roep my om ook in die Koninkryk saad te saai. Soms is ek baie ongemaklik en weet ek nie wat om te sê en te doen nie. Tog wil ek, Here. Gee my krag. Neem my hand en gee my die woorde. Amen.