God se Woord in vandag se woorde

Asgatkinders en so…


Filippense 1:19-26

Paulus het vir baie mense baie beteken. Dink maar net wat hy vir ons doen hier waar ons amper 2 000 jaar later aan sy lippe hang. En daar waar hy in die tronk sit, weet hy dat hy nog baie het om te doen. 25Inderwaarheid is ek seker dat ek nie nou al sal doodgaan nie. Ek sal nog ’n ruk lank vir julle gespaar bly. Ek moet julle eers verder op die pad van die geloof help sodat julle net al hoe blyer kan word omdat julle Christene is.

Eintlik is dit ook ons elkeen se rol om te vervul. Daar waar ons woon, werk en speel, het ons die opdrag om ’n verskil te maak. En gelukkig is daar nog baie wat dit doen, soos die afgetrede skoolhoof wat in ’n aftreedorp langs die see bly:

Ek het vir julle vertel van die groentetuin wat ek en Wimpie by die Laerskool begin het. Die skool kon toe 5 etes in plaas van 3 per week vir die kinders gee. Wimpie het die plantjies gekweek en vir die skool geskenk. Die Here voorsien.

Iemand het my gevra om te help met die 8 kinders wat by die asgate bly. Ek het ’n plan gemaak: Elke tweede Woensdag gaan vang ek met hulle vis in die rivier. Ek het ’n vislisensie vir elkeen nodig. ’n Organisasie hier in die dorp het hiervan te hore gekom en die lisensies betaal – die Here voorsien.

Elkeen het tog ’n visstok met katrolle nodig. Van my pelle help uit en elkeen het ’n visstok – die Here voorsien.

Vanjaar het ek weer geld vir die lisensies, iets om te eet en te drink vir elke kind elke tweede Woensdag. My vrou bederf hulle soms met ’n lekkerny.

Die Ouetehuis nooi my om vir hulle tydens hulle Bybelstudie te vertel wat ek doen (die groentetuin, biduur elke Maandag by die twee laerskole, oudio- Bybelaksie, Visvanggroep, Waardevol vir Christus-aksie) en net daar gee hulle vir my ’n donasie sodat ek kan aangaan – die Here voorsien!

Vyf van die 8 seuns is nou al terug in die skool (12 tot 15 jaar).

Hier in ons dorp gebeur nog baie meer en baie groter dinge. As julle weer kom inloer, vertel ons meer.

Sien jy dat die briefie van Tienie ’n getuienis is van hoe hy God ervaar in sy daaglikse lewe. Dit is vir seker so – God voorsien. Wat vir my egter nog meer uitstaan, is wat hy alles doen: “Die groentetuin, biduur elke Maandag by die twee laerskole, Oudio-Bybelaksie, Visvanggroep, Waardevol vir Christus-aksie.” Soveel mense ontvang deur Tienie se gehoorsaamheid.

Net soos Paulus se werk nog nie hier op aarde klaar was nie, is Tienie se werk ook nog nie klaar nie. Daar is nog te veel mense wat afhanklik is van sy doen en late. Sommige se geloof wat nog gevoed moet word. Sommige skole wat ekstra etes moet voorsit. Sommige wat die Bybel se boodskap moet sien en hoor. Sommige wat hulle waarde in Christus moet ervaar. En die drie asgatkinders wat nog moet terug skool toe…

Ek kry hoendervleis!

Ek wonder hoe lank ek nog moet bly om my taak klaar te maak?

Om oor na te dink

Is jy onmisbaar?

Moet jy nog ’n bietjie langer leef om jou opdrag uit te voer?

Wat doen jy om ’n verskil te maak?

Gebed

Here, deur u genade is ek gered. Daarom wil ek iets in u Nuwe Wêreld doen. Ek kan nie anders nie. Help my om die plek raak te sien waar U my wil gebruik. Gee my krag en deursettingsvermoë om die taak gewillig en goed te doen. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?