God se Woord in vandag se woorde

Baadjie opofferende liefde


Die Bybel sê: 17Teenoor julle mede-Christene moet julle liefdevol en lojaal wees. Dis een van die makliker opdragte van die Bybel, of so het ek eers gedink, totdat ek die vers ’n bietjie oordink het.

By die besigheid moes ons ‘n spesiale venster voorsien vir ’n skool. Dit was baie unieke vensters en nie deel van ons standaard reeks nie. Enige produk wat nie standaard is nie, neem baie tyd en energie om te ontwerp en te produseer. Natuurlik jaag dit ook kostes tot teen die dak.

Ek kom ooreen met die kontrakteur, maar met die betaalslag is daar heeltyd stories. Later gaan sien ek die argitek. Hy is ook ’n kind van die Here. Ons sleep mos aan dieselfde pakkie. Hy sal verstaan.

Maar ek kom ook daar nie reg nie. Derduisende rande is by die drein af. Ek kry baie seer, want wanneer jy aan die hoof staan van ’n besigheid, staan jy gewoonlik laaste in die ry wanneer salarisse betaal word. As daar nie is om uitgedeel te word nie, duik ’n bonus of selfs iets meer in die hek.

Sien jy hoekom ek sê dis nie altyd so maklik om jou Christen broer of suster te bedien met ’n pakkie no matter what liefde nie? Wanneer ’n broer of ’n suster jou in die tande skop, kom die naels uit.

Dis menslik.

Om liefde te gee, beteken om iets op te offer. Soms onder dwang. Linda (skuilnaam) vertel die mooi storie van haar ma. Selfopofferende liefde met ’n mooi einde:

“My ma, Cora is gebore in 1921. Sy was die oudste van 9 kinders. Hulle het groot geword op ’n plaas in die Overberg.

Een oggend, baie vroeg, kom ‘n plaasvrou na my Oupa en Ouma se woning. Die vrou vertel vir my ouma dat haar seun die volgende oggend vroeg per trein na Worcester moet vertrek. Sy vra vir Ouma of sy nie ‘n baadjie vir haar seun het om aan te trek nie. Dis nou so koud soggens. Ouma sê vir haar dat sy net ‘n rukkie moet wag totdat haar oudste seun van die melkstalle af huis toe kom.

Toe Gerhard by die huis kom, sê sy ma (my ouma) vir hom: “Gerhard, trek asb. jou baadjie uit en gee dit vir die vrou.”

Gerhard sê: “Mamma, en wat van môreoggend as ek 4:00 in die koue moet uitgaan om die koeie te melk?” Ouma sê net: “Gerhard, die Here sal voorsien.”

Gerhard trek sy baadjie uit en oorhandig dit aan die vrou. Sy het ouma vreeslik bedank en is met die baadjie weg na haar seun.

Later, dieselfde middag, kom bekendes na Ouma toe met ‘n sak vol baadjies. Hulle het kaste uitgepak en besluit om die baadjies wat hulle nie meer gebruik nie na my ouma te neem. Daar kry haar vyf seuns elkeen ‘n baadjie as geskenk. Ouma het oorgeloop van vreugde. Ouma het die seuns se enigste baadjie vir die seun gegee wat per trein Worcester toe moes gaan en die Here het gesorg dat haar vyf seuns elkeen ‘n baadjie ontvang.”

Baadjie opofferende liefde. Ja, ons moet lief wees en lojaal wees. God sal êrens langs die pad voorsien!

Teks
1 Petrus 2:13-17

Om oor na te dink
Is daar mense wat jou in die tande geskop het?
Hoe kan jy weer vir hulle lief wees?
Hoe leef ’n mens liefde uit?

Gebed
Vader, ek weet ek moet vir almal lief wees, maar selfopofferende liefde is geen maklike taak nie. Heilige Gees, help my asseblief om mededeelsaam te wees en eers aan ander te dink voordat ek aan my eie behoeftes dink. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek