God se Woord in vandag se woorde

Bang in die tronk, maar sien nog kans


Efesiërs  6:10-20

Kyk hoe maak Paulus sy hart vir ons wawyd oop. Hy is soos ’n weerlose baba. Ja, hierdie sterk man raak ook soms onseker en dan oorval die bangheid hom: 20Al sit ek nou hier in die tronk, het God my aangestel om die goeie nuus aan almal te vertel. Bid tog asseblief dat ek nie bang sal wees om die boodskap so reguit en duidelik te verkondig soos ek moet nie.

Wat ’n voorbeeld is dit nie vir ons almal nie? Eintlik kan ons baie uit die vers leer:

·       Life is not easy en christene kry nog minder die binnebaan. Paulus offer sy hele lewe vir God op. Hy gaan op gevaarlike reise. Hy trotseer die dood. Alles ter wille van die uitdra van God se Woord. So ja, ek dink dit is regverdig om te verwag dat hy ’n binnebaan kry en gepamperlang kan word. Maar dit is nie so nie. As jy jou hand opsteek vir Jesus gaan daar dalk tye kom wat jy vêrder terug as die kortste end sal moet staan.

Ek wonder of ek regtig bereid is daarvoor…
·       God roep gewone mense om sy werk te doen. God wil elkeen van ons gebruik. Ons moet net getrou wees en ons aanstelling as boodskapper van God ernstig opneem en ons ding doen daar waar ons woel.
·       Paulus is eerlik oor die omstandighede waarin hy is. Dis nie lekker nie. Dis gevaarlik daar en as jy nog jou mond gaan oopmaak oor iemand wat almal as die vyand sien, is die kans dat jy jou kop sal verloor baie goed. Paulus is ook net ’n gewone mens met gewone behoeftes en gewone vrese. Maar hy glo in gebed. Hy glo dat gebed ’n verskil in ’n mens se lewe maak. Hy glo dat ons gebede vir mekaar ’n verskil maak en God hoor.

Jy mag ook soms bang wees. Ja, soms is die wêreld net te groot en te boos. Soms raak dinge te veel en ons weet nie hoe verder nie. Dan moet ons maak soos Paulus. Dan moet ons die werklikheid om ons erken en besef dat ons te klein is om alleen daarteen te staan. Dan moet ons vir die mense om ons vra om saam te bid. Ons gebede vir mekaar maak ’n verskil en God hoor!
·       Paulus is nie bang om ’n graaf ’n graaf te noem nie. Die meeste van die kere moet dit so gebeur. As die boodskap in doekies toegedraai word, verstaan mense dit nie altyd nie. Soms moet jy vir ’n ou sê: Draai of braai. Ja, ek weet soms moet jy dit anders benader.

Ek wonder waar sou God se Boodskap nou getrek het as Paulus in sy dop gekruip het en gesê het hy dink hy het nou genoeg gedoen. Wat as hy homself daar in die tronk jammer gekry het en sy wonde gelek het? Ek vermoed miljoene mense sou vandag die pot misgesit het.

Hoeveel mense gaan uitmis as ons nie ons deel doen nie?

Ek wil nie die som doen nie. Kom ons doen eerder ons deel in opdrag van God.

Om oor na te dink

Is jy bereid?

Wat moet jy doen?

Waar moet jy begin?

Gebed

Vader, ek moet bieg dat ek soms ook bang is. Bang vir die lewe en bang vir nog ’n hele paar dinge. Help my om nie bang te wees om aan te hou om u woord te verkondig nie. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?