God se Woord in vandag se woorde

Bedrog nie deel van die spel


In die vorige skrywe het ek vertel dat ek die Israeliete sal uitken aan die manier waarop hulle bestuur. So sonder flikkerligte en toeters wat heeltyd raas. Net so ken ’n mens ’n kind van God uit deur sy manier van lewe en dinge wat hy doen.

Dit sluit bedrog uit. Kinders van God doen nie die bedrog ding nie. Kinders van God is eerlik en stap die reguit pad. Jy hoef nie op te kyk om seker te maak die son skyn as hulle sê dit is ’n mooi dag nie. Of hoe?

Ongelukkig is dit nie die norm vandag nie. Ek kry elke dag baie e-posse. Meer as die helfte daarvan delete ek dadelik. Dit is pespos. Die uitnodiging altyd so blink: Ek het geld geërf en moet die persoon net kontak, sodat hy die geld kan oorplaas.

Of ek moet net gou my bankrekening verifieer om te keer dat my rekening nie toegemaak word nie. Ek het al op die skakels gekliek en dan lyk dit presies soos my bank se portaal. Die verskil is dat jy net op hulle portaal werk en hulle op daardie manier al jou inligting kry om in jou bank in te gaan en alles te vat.

Dit maak ’n mens vies.

Weet jy dat daar meer as 89 biljoen pespos e-posse per dag wêreldwyd gestuur word? Die ergste is dat baie mense so gevang word. ’n Vriend van my werk by ’n baie groot maatskappy en een van hul werknemers het op ’n verkeerde aanhangsel by sy e-pos geklik.

So het ’n virus in die maatskappy se servers gekom. Die volgende dag toe hulle op kantoor kom, is al hulle lêers weg. As hulle daarop kliek, is daar ’n boodskap dat hulle miljoene rande moet betaal om dit weer terug te kry.

Hulle het geweier, want die meeste van die kere as jy betaal, vra hulle nog. Dit het hulle maande geneem om ontslae te raak van die virus. Amper 50% van besighede betaal die losprys.

Selfs in ons eie bediening het ’n virus ingeklim toe een van ons dogters op verkeerde skakel gekliek het. Met genade van Bo het ek gesien hoe die lêers in kodes verander. Ek kon al die rekenaars van die internet haal en die lêers weer installeer van ’n rekenaar wat van lyn af was.

Dit maak ’n mens moeg. Dit maak ’n mens bang. Dan wil jy net met mense werk wat jy heeltemal vertrou. Dit maak ’n mens moeg as iemand jou iets belowe en jy erg benadeel word. Dit wat jy vir ander sê, moet die waarheid wees. Dit wat jy sê jy gaan doen, moet jy doen.

1… Moenie agter iemand se rug iets anders wees as wat julle voor hom is nie.

Die wêreld het mense nodig wat eerlik en betroubaar is. Ons wat kinders van God is, moet hieraan geken word. Mense moet veilig by ons kan wees. Mense moet weet wat hulle by ons gaan kry.

Al is dit in die kleine, moet ons ons nie skuldig maak aan bedrog nie. Laat jou ja jou ja wees en jou nee jou nee. Laat ons manier van lewe vir ander ’n voorbeeld wees en laat dit hulle ook na die Lig toe aantrek.

Teks
1 Petrus 2:1-8

Om oor na te dink
Waar het jy al in mense vasgeloop wat jou bedrieg het?
Waar was plekke waar jy nie eerlik was nie?
Wat kan jy doen om te keer dat dit nie weer gebeur nie?

Gebed
Vader, ek wil in alle omstandighede eerlik wees. My ja moet my ja wees. Wys my waar ek dit nie doen nie en help my asseblief om dit uit my lewe te dryf. Ek vra dit in Jesus se Naam.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek