God se Woord in vandag se woorde

Begin by die begin


Timoteus se roeping was om die evangelie van God te gaan uitdra. Hy moes gaan na ’n wêreld wat nog glad nie van die verlossende boodskap van Jesus gehoor het nie.

Die opdrag aan hom was: 13… jy moet aanhou met voorlesing, vermaning en lering. (1983-vertaling). As ’n mens die vers direk uit die oorspronklike teks vertaal, klink dit soos volg in Engels: Give attendance to reading, to exhortation and to doctrine … of in Afrikaans: Gee aandag aan voorlesing, vermaning en lering. Die Griekse woord anagnōsis wat hier vertaal is met voorlesing (van die Woord van God) kan ook beteken dat hy persoonlik die Woord van God moet lees.

Om sy roeping te gaan uitleef, om vir mense voor te lees, te vermaan en die lering oop te breek, moet hy persoonlik eers in die Woord van God gaan delf. En dis ’n groot les vir ons almal. Ons kan nie ons roeping uitleef of eintlik ons voet in die wêreld sit as ons nie eers self ’n paar treë in God se Woord gestap het nie.

Maak nie saak wat jou roeping is nie, ons almal se vertrekpunt moet die Woord van God wees. Dis hier waar ons leer wat ons roeping is. Dis hier waar ons leer hoe om ons roeping uit te leef. Dis hier waar ons gevorm word. In God se Woord leer ek vir God ken en leer ek myself ken. Dis hier waar ek verander word om minder na myself te kyk en my oë op te lig en ander raak te sien.

Ek wil ’n woeste stelling waag: As ek nie tyd maak om elke dag my neus in God se Woord te druk nie, is die kans baie goed dat ek my roeping gaan mis, wat nog te sê daarvan om dit uit te leef.

Baie keer kom mense na ons toe met groot probleme. Probleme in hulle huwelik, probleme met geldsake, probleme by die werk, persoonlike probleme. Die meeste van die kere het al die mense ’n gemeenskaplike fout in hulle fondasie: hulle kom nie by die Woord van God uit nie.

God se Woord moet die rigtingsnoer van jou lewe wees. Dit moet die fondasie van jou lewe wees. Dit moet soggens jou vertrekpunt wees. Want hier kry jy jou krag vir die dag. Hier word jy bemagtig om die wêreld en die mense rondom jou werklik te verander.

Timoteus het ’n spesifieke roeping gehad en dit is om vir mense uit God se Woord te gaan voorlees, hulle te vermaan en op te lei in die leringe van die Christelike geloof. Maar voor hy dit kon regkry, moes hy eers self die Woord van God (wat op daardie stadium nog net uit die Ou Testament en Profesieë bestaan het) lees en bestudeer.

Vir my en jou is dit net so belangrik. Jy moet dit eintlik nie waag om jou roeping uit te leef voordat jy in God se Woord gewoel het nie. Nee, jy moenie dink dat jy eers 100% toegerus moet wees voordat jy jou roeping kan laat grondvat nie. God gebruik wel krom stokke, maar begin net eers elke oggend in God se Woord.

Laat toe dat Hy jou leer. Slaan ag op die vermanings waarvoor ons dikwels ’n dowe oor gooi en maak dit deel van jou wêreld. Net die blote eerlikheid oor die pad wat God met jou stap, is soms genoeg om in ander se lewens ’n verskil te maak.

Maak erns met jou roeping en begin by die begin: In God se Woord.

Teks

1 Timoteus 4:6-16

Om oor na te dink

Wat is jou roeping?
Waar moet jy begin?
Wat is jou commitment?

Gebed

Vader, U het vir ons elkeen geroep om met die talente wat ons het in die wêreld te gaan woel. Ek besef ek moet elke dag tyd met U Woord deurbring. Maar ai, Here, die lewe is so vinnig en as ek my weer kom kry, het ek dit gemis. Help my om ’n commitment te maak om elke dag by U Woord uit te kom. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek