God se Woord in vandag se woorde

Bekommerd? God los nie!


Filippense 4:1-9

Sjoe, nou het ons al ’n hele paar keer by bekommernis en God stilgestaan, maar dis nog nie die einde nie. Ook maar goed so, want ek dink die meeste van ons, indien nie almal nie, word so nou en dan platgeduik deur bekommernis. Ons slaag nie daarin om die stres wat die wêreld na ons kant toe gooi te systap nie.

Ons moet by die kinders se skool uitkom vir ’n prysuitdeling. Ons dogters moet 30 minute voor die tyd daar wees en hulle mag nie laat wees nie. Ons tref die dorp en die verkeer is chaos. Ek kan nie glo dat die dorp so lyk op ’n Maandagaand nie. Dit slaan my soos ’n bom: Dis Varsity Cup. Ek besef ons is in die moeilikheid.

Ek sit rustig en wag vir die ou voor my om ’n stukkie vorentoe te ry.

Die stemmetjies begin benoud hier van agter af spoed optel. Hoe stadiger ons beweeg hoe hoorbaarder word die stres. My vrou begin later ook ’n eier of twee te lê. Terwyl ons so ry en stres, besef ek dat stres niks kan doen om die probleem op te los nie. Maak nie saak hoe baie die drie vrouens in die kar stres nie, al gooi hulle al hulle stres bymekaar, gaan dit geen, maar geen invloed hê op die tyd wat ons by die skool aankom nie. Nee, al wat die stres help is dat hulle met minder energie en baie meer geïrriteerd by die eindbestemming aanland.

Soms moet ons vrede maak met die situasie waarin ons is. Soms is daar bitter min wat ons aan ’n situasie kan verander. Dis sulke tye wanneer ons eerder ons energie moet gebruik om met God te praat. Dan sal die energie wat ons gebruik nie amps trek op negatiewe dinge soos stres wat ons in ieder geval niks gaan help nie. Nee, om ons energie en gedagtes op God te fokus is ’n veel beter opsie.

Neem nou maar die beloftes wat Paulus uitgeleef het: 9… God sal julle nie los nie. Hy sal by julle bly. By Hom sal julle veilig en gelukkig voel. Wanneer ’n mens die belofte hoor, gee dit energie. ’n Mens skep weer moed. Jy sien weer kans om die berg wat voor jou lê aan te durf. Jy sien weer kans om iets te doen met die olifant in die kamer.

As ’n mens weet dat jy nie alleen deur die krisis hoef te veg nie, lyk alles nie meer so donker nie. Weet dat jy nooit alleen is nie, al voel dit soms so. Weet dat God deur sy Gees by jou is, al het jy êrens deur die modder geploeg. Maak nie saak wat jy gedoen het nie, jy kan nie die Heilige Gees sommer afskud nie. Daarom kan jy veilig voel in ’n onveilige wêreld. Daarom kan jy enige groot probleem aanpak en weet dat jy nie alleen is nie.

Ek bid saam met vriende oor die stressor in my lewe en terwyl ek bid, besef ek dat my spanning veroorsaak word deur die vrees dat daar te min mense sal opdaag om te help met die reëlings vir ’n beplande toer. Op wie plaas ek my hoop? Op die mense, maar mense faal en stel teleur.

Net daar swaai ek my kop en sê vir God dat ek eerder sy hand wil vat. Hy is tog sterker, wyser en het baie meer planne as al die mense op die aarde saam. Ek raak rustig en weet alles is onder beheer, want God is by my. Hy sal my help. Hy sal my veilig hou. By Hom sal ek gelukkig wees.

Mag ons ons fokus op God rig, sodat Hy ons nuwe krag kan gee om die uitdaging voor ons met ’n moedige hart aan te pak.

Om oor na te dink

Waar haak dit?

Praat jy met God?

Wat is die moontlike wat jy kan doen?

Gebed

Here, baie dankie dat U die Vredevors is wat altyd by ons is. Dankie dat U ons seën met vrede in alle omstandighede. Help ons om getrou te wees aan U Woord en om volgens U riglyne te leef, want dis wanneer u vrede oor ons spoel, ongeag die omstandighede. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?