God se Woord in vandag se woorde

Bekommernis steel energie


Filippense 4:1-9

Dis Maandagoggend. Ek is al lank voor 5 uur wakker. My maag draai en ek is bekommerd oor die volgende 3 maande wat voorlê. Ek het baie vurke in die vuur. Ek is bang dinge werk nie soos ons beplan het nie. Ek is bang dat die finansies nie gaan uitwerk nie. Ek is bang vir pap op my gesig.

Is jy ook soms hier?

Ek raak stil en my teks vir die dag…?

8Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ’n goeie lig stel.

Ek neem elke woord van die teks in, want sien, dis presies waar ek nou is. Ek is bekommerd.

Stadig gaan die lig in my kop aan. Bekommernis is energie wat van jou gesteel word. Dis van jou eie energie wat jy verkeerd kanaliseer. Ja, bekommernis maak jou moeg. Dit sit jou emosies aan die hol en voor jy jou kom kry, bly jy die heeltyd moeg. Jy loop soos ’n olifant met ’n seer toon rond en is ’n knorpot. Dis alles bekommernis se skuld en eintlik is dit so onnodig, want het bekommernis nou al ooit enige probleem opgelos?

Bekommernis het niks te make met die oplossing nie.

In plaas daarvan om die energie na bekommernis te kanaliseer, moet ons eerder die energie gebruik vir dinge wat vir God belangrik is. Die ou vertaling beskryf dit baie mooi: 8. Verder, broers,

·        alles wat waar is,

·        alles wat edel is,

·        alles wat reg is,

·        alles wat rein is,

·        alles wat mooi is,

·        alles wat prysenswaardig is –

watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

God is aan ons kant. God is reeds daar met ’n oplossing vir ons probleme. Hoekom dan nou tyd mors om jou daaroor te bekommer. Rig jou gedagtes eerder op die positiewe en bly glo dat God op die ou end vir jou sal deurkom. Sit ’n wag voor jou gedagtes en konsentreer bewustelik om te dink aan dit wat waar, edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig is.

Kyk om jou en besef hoe geseënd jy eintlik is. Kyk na jou geliefdes en vriende. Besef hoe ryk jy eintlik is en loof God daarvoor. Wanneer jy jou energie positief gebruik, sal bekommernis verander in vreugde en God sal juis daardeur verheerlik word.

Om oor na te dink

Waar haak dit?

Praat jy met God?

Wat is die moontlike wat jy kan doen?

Gebed

Here, ek sukkel. Ek sukkel om bekommernis op hok te hou. Dit kom steel gereeld my energie. Ek weet nie meer wat om te doen nie. Ek weet nie meer hoe om vorentoe te gaan nie. Ek is eerlik. Help my om op U en U dinge te konsentreer. Help my om my energie te plaas op dinge wat vir U belangrik is. Dan sal alles ligter word. Ek weet dit. Ek glo dit. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?