God se Woord in vandag se woorde

Belê in die hemelse bank


Daar word die grappie vertel van die ryk man wat ’n obsessie gehad het met sy rykdom. Hy kon nie daaroor kom dat hy dit eendag alles net so moet agterlaat nie. Elke dag het hy gebid en gevra dat daar tog ’n spesiale uitsondering vir hom sal wees. Die ryk man het nie opgehou kerm, kla en soebat totdat daar later wel ’n uitsondering vir hom gemaak is nie.

Die man kom toe by die hemelpoorte aan – natgesweet van die sleep aan die koffer met goudstawe in. Petrus sê dadelik dat hy mos weet dat geen mens enige iets by die hemel mag of kan invat nie. Die ryk man sê toe vir Petrus dat daar wel ’n spesiale uitsondering vir hom gemaak is.

Petrus was baie verbaas om te hoor dat daar wel ’n uitsondering vir die ryk man gemaak is. Maar voordat hy die man inlaat, vra hy die ryk man of hy net kan loer wat hy in die tas het.

Toe Petrus sien wat in sy tas is, word sy gesig oorval met vraagtekens: “Ek verstaan nie lekker hoekom jy deur al hierdie moeite gegaan het net om ’n paar plaveisel stene vir die strate te bring nie!” Ja-nee, wat vir ons waardevol is hier op aarde verskil hemelsbreed van wat in die hemel waardevol is.

Ons weet dat die doodskleed nie sakke het nie, maar steeds maak ons só baie van aardse rykdom. Geld is dié ding waaroor baie van ons elke dag dink. As ek maar net ’n klein bietjie meer kan kry om dit of daai te koop. Vra maar vir die persoon langs jou: “Hoeveel is genoeg?” Die antwoord glip soms vinnig uit: “Net nóg ’n bietjie meer!”

Geld maak die lewe soms makliker, maar dit het niks uit te waai met ware vrede en vreugde nie. Inteendeel, geld is geen waarborg vir ’n gelukkige huwelik of gesondheid nie. Ook nie vir ware vrede en vreugde nie. Soos Neil Diamond sing: “Money talks, but it can’t sing and dance and it can’t walk.”

Ons moet ons lewe so leef dat ons skatte in die hemelse bank is. Dis al plek waar ware rykdom is. 6Eintlik kán godsdiens ’n mens baie ryk maak. Aardse rykdom is nie so baie werd nie, 7want ons het sonder ’n sent in die wêreld gekom en eendag wanneer ons doodgaan, sal ons ook niks van die wêreldse rykdom kan saamvat nie.

Ons elkeen se ware rykdom begin waar ons besef hoe geseënd ons is om kinders van God genoem te word. Ons is ryk in genade. Genade hou nie op om oor ons te reën nie. Ja, dit gaan dalk nie elke dag so maklik nie en ons moet ons sommetjies oor en oor doen om die einde van die maand te haal, maar dit het niks te doen met hoe ryk ons is nie.

Geen geld in die wêreld kan vir ons ’n plekkie in die hemel koop nie. Jesus het Sy lewe gegee sodat almal wat in Hom glo, deel kan hê aan daardie belofte. Die belofte van ’n ewige lewe wat ek en jy van God ontvang het, is meer werd as al die rykdom in die wêreld.

Kinders van die Here is geseën met hemelse skatte soos vrede, vreugde, liefde, vergewingsgesindheid, mededeelsaamheid, opregtheid, ag en so kan ek aangaan.

Ons is skatryk van hemelse seëninge. Gaan leef dit en wys dit vir die mense wat so verstrengel is in wêreldsgoed. Maak hulle jaloers op dié dinge wat geld nie kan koop nie en vertel hulle dat hulle óók deel kan hê aan die skatte in die hemelse bank.

Teks
1 Timoteus 6:6-10

Om oor na te dink
Waar lê jou rykdom?
Watter waarde heg jy aan geld?
Het jy al iemand gehelp om ’n beter perspektief op rykdom te hê?

Gebed
Here, alles wat ek het, kom van U af. Help my om tevrede te wees met wat ek het. Rig my gedagtes eerder op die skatte in die hemelse bank as die geld in die bank van die wêreld. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek