God se Woord in vandag se woorde

Beleggings in God se bank


19So sal hulle soveel goeie dinge doen dat hulle in die oë van God en die mense baie ryk sal wees, nie omdat hulle baie geld het nie, maar omdat hulle soveel goeie dinge gedoen het.  So belê hulle eintlik in die bank van God. Dit is die beste belegging waaraan ‘n mens kan dink, veral vir die toekoms. So sal die ryk gelowige ook die ware lewe by God hê.

Baie goeie vriende van ons het ’n Downsindroom seun, Boeta, wat van een tehuis na ’n ander moet skuif. Die koste van die skuif is baie hoog. Alhoewel hulle ’n paar polisse oor die jare uitgeneem het om hiervoor voorsiening te maak, skiet dit nog steeds vêr te kort. Vriende in die dorp het uit eie inisiatief aan die werk gespring en ’n lekker dans met ’n veiling in die stadsaal gereël. Dié aand word daar meer as genoeg ingesamel!

Hier was baie rolspelers: Die vier mense wat die kos se rekening opgetel het nog voordat alles begin het. Die mense wat wyn en skilderye geskenk het en ander wat dit weer gekoop het, soms vir vêr bo die werklike waarde. Die vrouens wat tyd ingesit het met die voorbereidings en admin om die aand vir 300 gaste vlot te laat verloop.

Die ander mense wat só baie net gegéé het. Die mense wat die kosbare, handgemaakte lappieskombers teen ’n reuse bedrag gekoop het en net daar opgestaan het en dit vir Boeta se Ma gegee het! Al die mense het op ’n manier ’n verskil gemaak. Al die mense het ’n stukkie van die opdrag uitgeleef en met geld en tyd en energie in God se bank belê.

As ek so na die aand kyk, staan daar geskrywe: Gee! Of dit met geld was, of tyd of energie – die meeste van die mense het die aand belê in God se bank.

Ek het gewonder hoekom sou so baie mense so maklik almal ja gesê het vir so ’n aand. Die antwoord het maklik en vinnig gekom: Omdat dié ouers, albei onderwysers, hulle lewe lank elke oomblik van die dag in God se bank belê. Hulle belê ontsettend baie in die kinders én ouers wat deur hulle hande gaan. Hulle is net so aanmekaargesit en hulle kan nie anders as om alles wat in hulle is vir ander te gee nie. Hoeveel kinders (en ouers) is vandag op die regte pad omdat hulle vir ’n tydjie saam met dié twee onderwysers ’n pad geloop het!

Hierdie twee mense het verstaan wat dit beteken om terug te gee, te midde van, maar ook as gevólg van Boeta en op ’n manier is van die rente dié aand uitbetaal. Nie dat dit die rede is waarom hulle dit gedoen het nie. Nee, uit dankbaarheid dat God hulle gekies het, belê hulle elke oomblik van die dag bietjie vir bietjie in God se bank.

Beleggings in God se bank is nie net geld nie. Ja, dit is ook geld, maar dit is ook tyd en energie. Kom ons sê dit weer vir mekaar: Omdat God eerste na ons uitgereik het, omdat God vir ons só goed is, omdat ons nie meer heeldag voor ’n afgrond staan nie, wil ons graag met alles wat ons het, in God se bank belê.

Die Maandag gaan haal ons die laaste goedjies by die saal. Die opsigter kom met ’n duur selfoon aangestap. “Hier, ek het dit opgetel onder ’n stoel. Ek sou nie met my gewete kon saamleef nie. Boeta het die aand my hand kom vat en vir my kom dankie sê.”

Nog rente!

Teks
1 Timoteus 6:17-21

Om oor na te dink
Hoe kan jy vandag beleggings doen?
Waar kan jy vandag beleggings doen?
Hoe gaan jy tyd maak daarvoor?

Gebed

Vader, ons het só baie om voor dankbaar te wees. Help ons elkeen om bereid te wees om ook aan ander goed te doen soos wat U aan ons goeddoen. Leer ons om in U bank te belê want alles wat ons het, het ons van U ontvang het. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek